Gedagte vir die dag – “Ag please daddy…”
Vandag se dagstukkie lyk so bietjie anders as ‘n dagstukkie. Dit lees meer soos ‘n artikel in ‘n tydskrif, maar dit is eintlik ook nog meer as dit: dis ‘n dankie-sê-briefie. “Ag please daddy won’t you take us to the drive-in” sal nooit weer dieselfde betekenis hê nie. Dankie aan Karin vir die mooi woorde en vir Karin en Louisa vir die mooi foto’s. (Kliek op ‘n foto vir die groot weergawe en dan kan jy vorentoe/agtertoe deur die foto’s blaai.)
‘n Geskiedkundige gebeurtenis inderdaad.
Ons doen dit op die manier hoe daar van ons verwag word. “Verkondig MY Woord tydig en ontydig”. Nie eens die Covid-19 epidemie kon WESKERK stuit om erediens te hou nie.
Op een van die moosite wolklose oggende, het ons op Sondag 2 Augustus die wonderlike voorreg gehad om weer terug na ons geliefde kerkgebou te beweeg. Drive-in Church! ‘n Droom het waar geword, gebede van hoe en waar is bewaarheid.
Met ‘n fles koffie, karre se radio’s wat ingestel is op FM en ons dominee agterop ‘n bakkie, kon ons weer na maande se inperking, saam ons Hemelse Vader op ‘n nuwe manier loof en prys. Saam, as ‘n gemeente, as gelowiges in Christus.
Die preek kom uit die eerste boek van die Bybel. GENESIS. Dit is gepas. Ons moet voor begin. Ons hoor van verandering en in dieselfde boodskap ervaar ons HOOP. Ons behoort aan God.
So sal die geleentheid van 2 Augustus 2020 as ‘n eerste in ons geskiedenis opgeteken word. Ons kan getuig. Ons het rede om te getuig. ‘n Geleentheid is gevind, ‘n oplossing vir die verlange na Koinonia, maar steeds op veilige afstand.
In 2020 gebeur dinge of dit gebeur eenvoudig glad nie. Niks halfpad nie. Pappas het die voorreg gehad om self die water op hulle babatjies se kop te gooi tydens die doop seremonie. Veilige social distancing, gemasker en al.
‘n Kerkraadslid is in sy nuwe amp bevestig. Met ‘n “Bluetooth waai-in-die-lug high-five” gelukwensing en verwelkoming sal hy beslis nie hierdie oomblik vergeet nie.
WESKERK het live gegaan. Die orkes het hulle kant gebring en ‘n onbeskryflike atmosfeer het geheers. ‘n Atmosfeer van dankbaarheid.
Totdat ons weer ons kerkgebou mag betree in veiligheid, sal ons van nou af elke Sondag ons erediens op hierdie manier bywoon. ALMAL is welkom.
Ons sal ons Almagtige Heer en Hemelse Vader se grote Naam lof besing, Hom aanbid, op Hom vertrou tot in ewigheid.
Ons hoop om jou Sondag weer te sien.
WESKERK: Waar Elkeen Sy Kerk is.
Gedagte vir die dag – Rede om voor dankbaar te wees
Ons kuier hierdie week in Psalm 136 en ek wil vir jou vra om die hele psalm nog ‘n slag deur te lees. Konsentreer hierdie keer, terwyl jy lees, op die werkwoorde wat die psalm gebruik.
Die werkwoorde beskryf die dinge wat die Here doen: gedoen, gemaak, gevestig, getref, gekloof, gelei, verslaan, gedink, gegee, bevry, ens. Hier word nie gepraat, sommer net van abstrakte idees of metaforiese handelinge van ‘n God wat opgemaak en vêr is nie. Hier word gepraat van fisiese gebeure, fisiese handelinge van die lewende God binne in ons wêreld, binne in ons geskiedenis.
Dit opsig self is vir my ‘n wonderlike troos. Die feit dat die Here van die heelal, die Koning en Oppermagtige God, nie veraf en onbekend bly nie, maar dat Hy so groot is en vir ons so lief is dat Hy binne in ons wêreld Homself sigbaar maak en sigbaar betrokke is in mense se lewens.
Maar dit is ook ‘n belangrike manier om na God se betrokkenheid in elkeen van ons lewens te kyk. Wanneer ons dink aan hoe die Here in ons eie persoonlike lewens figureer dan help dit ons baie om daaraan te dink in terme van werkwoorde. Dinge wat Hy fisies DOEN en geDOEN het in ons lewens. Ons praatjies oor God kan soms wollerig en onduidelik raak, maar wanneer ons onsself dwing om oor die werkwoorde te dink dan ontdek mens baie keer dat die Here baie meer in ons lewens betrokke is as wat ons op die oog af gedink het.
Daarom wil ek jou ook uitnooi om êrens deur die loop van die dag so bietjie na te dink oor wat die Here in jou lewe DOEN en geDOEN het en dalk is dit goed as jy iewers ‘n nota kan maak en net die werkwoorde neer te skryf.
Wanneer ons dit doen is ons eintlik besig met dieselfde proses in ons harte as dit wat die Psalmdigter hier doen. En gaan ons baie vinnig besef, dat ongeag van ons huidige omstandighede, daar altyd iets is om voor dankbaar te wees. Om dit te ontdek help ons weer om nuwe perspektief te kry op ons huidige omstandighede.
Mag jy ook vandag opnuut ontdek dat die Here aktief in jou lewe werk. En mag jy daarin ook opnuut ontdek dat sy troue liefde vir ewig duur.
Psalm 18 sê in vers 36 vir ons iets oor die Here se regterhand, sy fisiese betrokkenheid in ons lewens:
Gedagte vir die dag – God hou sy beloftes
Soos jy nou al hopelik teen die tyd kon aflei, gaan ons dan nou oor om vandag te kyk na die derde groot magtige daad waarvan Psalm 136 praat, nl. die intog in die Beloofde Land.
Hier kan ons weer na al die gebeure kyk en sien hoedat die Here se mag hier ten toon gestel word. Weer lei die Here sy volk droogvoets deur water, hierdie keer deur die Jordaanrivier. Verder ken ons ook tog die storie van Jerigo en sy mure wat geval het. So is die verhaal van die intog en vesitiging van die volk in die Beloofde Land ‘n konstante getuienis van God se grootheid en getrouheid.
Psalm 136:17-24 vertel vir ons die verhaal so in kort:
“Hy het groot konings oorwin,
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
magtige konings laat sneuwel:
koning Sihon van die Amoriete,
koning Og van Basan.
Hy het hulle land as geskenk gegee,
as geskenk aan Israel, sy dienaar.
Hy het aan ons gedink in ons vernedering
en ons uit die mag van ons teëstanders bevry.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
Die belofte van hierdie land kom al lank en vêr en die pad na die vervulling van die belofte het baie draaie geloop en nie verloop soos wat die volk wou gehad het nie. So is dit mos maar baie keer vir ons ook. Dat ons idee van hoe en waar en wanneer die Here sy beloftes moet nakom nie altyd ooreenstem met Sy tydsberekening en manier van doen nie.
Maar die Bybel is vol van verhale wat vir ons leer wat dit beteken om aan God se beloftes vas te hou. Ons kan weet dat Hy nooit laat is nie, maar ons gebede op die beste tyd, vir sy doel, antwoord. Ons kan ook weet dat Hy die beste vir ons wil hê. Dit beteken dat Hy, selfs al kry ons nie wat ons wou hê of gedink het ons nodig het nie, vir ons meer en beter beplan het as wat ons eers kon dink.
God bly getrou, al is ons ontrou. Daarom kan ons aan Hom vashou – met ons rug na die onbekende toekoms en weet: God is wie hy sê Hy is en Hy doen wat Hy sê Hy doen.
Onthou wat Spreuke 3:5-6 vir ons sê:
Gee oor. Vertrou met volle oorgawe op die Here. Vir ewig duur sy troue liefde.
Gedagte vir die dag – God is ons bevryder
Die tweede groot “magtige daad” waarna Psalm 136 verwys is een wat ‘n belangrike rol in die Joodse godsdiens speel: God het sy volk uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry (vgl. Eks 20:1). Dit is die beweegrede, die motivering vir so baie van dit wat in die tempel gebeur en moet gebeur en vir hoe ‘n godsdienstige lewe behoort te lyk.
Dink maar aan hoe groot hierdie gebeurtenis was. Die Tien Plae. Die gebeure rondom die tiende plaag: die lam, die bloed aan die kosyne, die doodsengel. Dit het die grond voorberei vir dit wat Jesus, die Lam van God, later aan die kruis vir die hele wêreld sou doen. Dink aan die proses om uit Egipte uit te kom en hoe die Egiptiese strydwaens die volk agterna gesit het tot by die see. Daar het die Here die see oopgekloof sodat die volk droogvoets kon deur trek.
Ons sien in Psalm 136:10-16 die verhaal voor ons afspeel:
Net nog ‘n bewys van die magtige dade wat die Here gedoen het – en nog ‘n rede waarom ons, selfs al is die toekoms donker en onbekend, op die Here kan vertrou. Hy is ons bevryder! Hy het dit in die verlede gedoen, en Hy sal dit weer doen.
Dit is daar waar die volk vasgevang was tussen die see en die farao se strydwaens wat die Here deur Moses vir die volk gesê het: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”
Jesus die, Lam van God, kom maak hierdie prentjie klaar. Hy kom maak ons WAARLIK vry en Hy het die mag oor siekte, oor die dood, oor die wind en die see en die storms – God is ons bevryder. Vir ewig duur sy troue liefde.
Ons kan saam met Dawid in 2 Samuel 22:2-3 uitroep (vgl. Psalm 18):
Gedagte vir die dag – Hy het magtige dade gedoen
Ons delf bietjie dieper in Psalm 136 wat ons gister begin lees het. Onthou die Psalmdigter kyk na die verlede en onthou die magtige dade wat die Here gedoen het. Hy verwys hoofsaaklik na drie groot gebeurtenisse en sê dat die eer daarvoor, sonder twyfel, aan God alleen toekom. Die skepping, die uittog uit Egipte en die intog in die Beloofde Land. Dit is God wat dit gedoen het, Hy alleen – niemand het Hom gehelp nie – Hy alleen ontvang die lof en die eer en op Hom alleen kan ons vertrou.
Ons het nou al in verskeie van ons dagstukkies bietjie opgekyk na die sterre en gekyk na die wonderlike manier waarop die Here die heelal geskape het. Psalm 136:4-9 vertel ons weer daarvan (hier sonder die refrein wat tussen elke versreël herhaal):
God is verhewe bo die skepping. En in die antieke tyd is dinge soos die maan, son en sterre as gode aanbid, maar die Psalms sê vir ons dat hulle ook maar net skepsels is – ondergeskik en onderdanig aan die Skepper.
Het jy al gedink hoe mal die verhouding tussen die son en die aarde eintlik is vir ons om hier te kan leef? Die son is die perfekte grootte, vorm, helderheid, ouderdom, temperatuur en afstand van die aarde af vir lewe om op die aardbol te kan moontlik wees. As enige een van hierdie afmetings selfs ‘n klein bietjie sou verander, sou ons nie op aarde kon leef nie. Die fisiese kragte wat hier aan die werk is om alles in perfekte balans te hou is te groot vir my brein. Die Here is groot!
Die son is een van die kleiner sterretjies in ons sterrestelsel, maar daar kan 960 000 aardbolle in die son pas. Die son se kern kan temperature van tot 150 miljoen grade Celsius bereik terwyl die temperatuur op die oppervlak tot 5 500 grade Celsius kan word.
Hoe wonderlik is dit dat hierdie massiewe vuurbol vir ons lewe en energie en vreugde hier op aarde kan beteken. Waarlik, die Here “het die hemel met soveel insig gemaak” (vers 5). En boonop bederf die Here ons nog elke dag met die mooiste sonsopkomste en sonsondergange, wat spog met sy handewerk!
Hy het magtige dade gedoen, Hy alleen. Vir ewig duur sy troue liefde.





















