Vandag se dagstukkie lyk so bietjie anders as ‘n dagstukkie. Dit lees meer soos ‘n artikel in ‘n tydskrif, maar dit is eintlik ook nog meer as dit: dis ‘n dankie-sê-briefie. “Ag please daddy won’t you take us to the drive-in” sal nooit weer dieselfde betekenis hê nie. Dankie aan Karin vir die mooi woorde en vir Karin en Louisa vir die mooi foto’s. (Kliek op ‘n foto vir die groot weergawe en dan kan jy vorentoe/agtertoe deur die foto’s blaai.)
‘n Geskiedkundige gebeurtenis inderdaad.
Ons doen dit op die manier hoe daar van ons verwag word. “Verkondig MY Woord tydig en ontydig”. Nie eens die Covid-19 epidemie kon WESKERK stuit om erediens te hou nie.
Op een van die moosite wolklose oggende, het ons op Sondag 2 Augustus die wonderlike voorreg gehad om weer terug na ons geliefde kerkgebou te beweeg. Drive-in Church! ‘n Droom het waar geword, gebede van hoe en waar is bewaarheid.
Met ‘n fles koffie, karre se radio’s wat ingestel is op FM en ons dominee agterop ‘n bakkie, kon ons weer na maande se inperking, saam ons Hemelse Vader op ‘n nuwe manier loof en prys. Saam, as ‘n gemeente, as gelowiges in Christus.
Die preek kom uit die eerste boek van die Bybel. GENESIS. Dit is gepas. Ons moet voor begin. Ons hoor van verandering en in dieselfde boodskap ervaar ons HOOP. Ons behoort aan God.
So sal die geleentheid van 2 Augustus 2020 as ‘n eerste in ons geskiedenis opgeteken word. Ons kan getuig. Ons het rede om te getuig. ‘n Geleentheid is gevind, ‘n oplossing vir die verlange na Koinonia, maar steeds op veilige afstand.
In 2020 gebeur dinge of dit gebeur eenvoudig glad nie. Niks halfpad nie. Pappas het die voorreg gehad om self die water op hulle babatjies se kop te gooi tydens die doop seremonie. Veilige social distancing, gemasker en al.
‘n Kerkraadslid is in sy nuwe amp bevestig. Met ‘n “Bluetooth waai-in-die-lug high-five” gelukwensing en verwelkoming sal hy beslis nie hierdie oomblik vergeet nie.
WESKERK het live gegaan. Die orkes het hulle kant gebring en ‘n onbeskryflike atmosfeer het geheers. ‘n Atmosfeer van dankbaarheid.
Totdat ons weer ons kerkgebou mag betree in veiligheid, sal ons van nou af elke Sondag ons erediens op hierdie manier bywoon. ALMAL is welkom.
Ons sal ons Almagtige Heer en Hemelse Vader se grote Naam lof besing, Hom aanbid, op Hom vertrou tot in ewigheid.
Ons hoop om jou Sondag weer te sien.
WESKERK: Waar Elkeen Sy Kerk is.





















