Soos jy nou al hopelik teen die tyd kon aflei, gaan ons dan nou oor om vandag te kyk na die derde groot magtige daad waarvan Psalm 136 praat, nl. die intog in die Beloofde Land.
Hier kan ons weer na al die gebeure kyk en sien hoedat die Here se mag hier ten toon gestel word. Weer lei die Here sy volk droogvoets deur water, hierdie keer deur die Jordaanrivier. Verder ken ons ook tog die storie van Jerigo en sy mure wat geval het. So is die verhaal van die intog en vesitiging van die volk in die Beloofde Land ‘n konstante getuienis van God se grootheid en getrouheid.
Psalm 136:17-24 vertel vir ons die verhaal so in kort:
“Hy het groot konings oorwin,
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
magtige konings laat sneuwel:
koning Sihon van die Amoriete,
koning Og van Basan.
Hy het hulle land as geskenk gegee,
as geskenk aan Israel, sy dienaar.
Hy het aan ons gedink in ons vernedering
en ons uit die mag van ons teëstanders bevry.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
Die belofte van hierdie land kom al lank en vêr en die pad na die vervulling van die belofte het baie draaie geloop en nie verloop soos wat die volk wou gehad het nie. So is dit mos maar baie keer vir ons ook. Dat ons idee van hoe en waar en wanneer die Here sy beloftes moet nakom nie altyd ooreenstem met Sy tydsberekening en manier van doen nie.
Maar die Bybel is vol van verhale wat vir ons leer wat dit beteken om aan God se beloftes vas te hou. Ons kan weet dat Hy nooit laat is nie, maar ons gebede op die beste tyd, vir sy doel, antwoord. Ons kan ook weet dat Hy die beste vir ons wil hê. Dit beteken dat Hy, selfs al kry ons nie wat ons wou hê of gedink het ons nodig het nie, vir ons meer en beter beplan het as wat ons eers kon dink.
God bly getrou, al is ons ontrou. Daarom kan ons aan Hom vashou – met ons rug na die onbekende toekoms en weet: God is wie hy sê Hy is en Hy doen wat Hy sê Hy doen.
Onthou wat Spreuke 3:5-6 vir ons sê:
Gee oor. Vertrou met volle oorgawe op die Here. Vir ewig duur sy troue liefde.