Gedagte vir die dag – Die voëls hou aan sing

Verlede Vrydag (dis nou die dag van Murphy’s Law en die rioolwater-fontein) stap ek toe so ‘n (baie) kort entjie op die gholfbaan en wonder sommer oor die dag se gebeure en ter selfde tyd oor die beperkings van Lockdown en al die chaos rondom dit.  Maar soos wat ek loop kom ek agter dit lawaai eintlik iets vreesliks hier rondom my en word my aandag afgetrek van my eie gedagtes deur die geluide van al die verskillende voëls wat sing.

Mens hoor dit eintlik elke dag so in die verbygaan, maar op daardie oomblik was dit regtig opvallend. En hoe meer ek luister hoe meer verskillende liedjies hoor ek.  En hoe meer ek kyk hoe meer verskillende voëls sien ek.  ‘n Simfonie “van kleure en klank”. Dit was ‘n belewenis! So eenvoudig, maar groot genoeg dat ek op Maandag nog steeds nie dit afgeskud kan kry nie.

Dit sou mens seker kon verbygaan en sekerlik nie vir almal dieselfde betekenis hê nie, maar dit was asof die Here my op daardie oomblik kom herinner het dat Hy nog al die tyd sorg.  Dat Hy nog in beheer is. Dat alles aan Hom behoort en in sy Hand is. En skielik is my fokus nie meer op alles wat my bekommer nie, maar begin my hart ook saam met die voëltjies sing tot eer van Hom wat vir alles sorg.

Psalm 50:11 herinner ons daaraan as Hy sê: Ek ken al die voëls van die berge; al wat roer op die veld, is Myne.

Psalm 50 is nogal ‘n ernstige psalm waar die Here eintlik sy volk oproep tot lof en gehoorsaamheid – méér as net die gewone, meer as net rituele en gewoontes. Lees gerus die hele psalm, maar hierdie 2 verse spreek my vandag spesiaal aan.

In vers 15 gee Hy vir ons hierdie wonderlike uitnodiging, troos en versekering:

Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”

Gedagte vir die dag – Ten goede meewerk

Ons almal het êrens in ons lewens al met Murphy’s Law te doen gekry: “Anything that can go wrong, will go wrong.”  En party dae voel dit natuurik meer waar as ander. Die een ding na die ander gaan verkeerd en dan voel dit soos ‘n sneeubal effek na een groot gemors.

Jy ken daai dae: Jy verslaap. Daar is ‘n vlieg in jou koffie. Jou roosterbroodjie val botterkant ondertoe op die grond. Jou kar wil nie vat nie. Jy trap in ‘n grasperklandmyn. Jy sluit jou sleutels in jou kar toe. Die trok waaragter jy in die verkeer ry skiet ‘n klip teen jou kar se venster vas. Jou baas, wat nooit op ‘n Maandag by die kantoor is nie, se kar staan op jou parkeerplek. En dit gebeur alles voor 8 uur die oggend…

Ander dae, soos vanoggend, word jy dalk wakker van die klank van die fontein van (darem gesuiwerde) rioolwater wat teen jou kamervenster spuit… praat van ‘n rude awakening!

Nou partykeer kan ‘n mens eintlik maar net lag vir sulke situasies, maar ander kere is dit veel erger en meer kompleks en voel ‘n mens maar redelik hopeloos.  Dit is dan wat ons baie keer vrae begin vra oor bv. waarom slegte dinge dan met goeie mense gebeur.

Maar natuurlik is die liefde van die Here baie groter as Murphy se wetjie. Romeine 8:28 sê:

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Ongelukkig is dit ook so dat ons baie keer hierdie versie soos ‘n pleistertjie oor elke klein mikrokrisissie probeer plak, wat ons dan weer los met meer vrae wanneer daar weer iets verkeerdloop.  Maar die waarheid agter hierdie vers is soveel groter en het daarom juis ‘n invloed op die manier hoe ons krisisse en teleurstelling, lyding en vervolging hanteer en beleef.

Die wêreld is stukkend en vol pyn en lyding en al wil ons hoe graag hê dat dit anders moet wees, beteken die feit dat ons die Here ken nie dat ons nou net heeltyd in ‘n beskermende bubble-tjie leef nie en geen lyding beleef nie.  Hoe gou vergeet ons dit nie.  Maar die wonderlike is dat ons nie alleen is nie en dat ons juis binne die moeilikste omstandighede hoop kan hê omdat ons die Here ken en niks ons van sy liefde kan skei nie.

God is hier aan die werk en Hy laat alles ten goede meewerk – Hy maak dat ons aan Hom kan behoort! En die feit dat ons aan Hom behoort maak dat ons anders na die wêreld kyk. Kyk na die vorige 2 verse:

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

Ons is nie alleen nie.  En daar waar dit so sleg gaan met ons dat ons nie eers weet wat om te bid nie, help die Gees ons en pleit vir ons. Die Here, wat ook jou hart deurgrond, is by jou en jy behoort aan Hom.

Gedagte vir die dag – Hy ken jou naam

Hoe belangrik is jou naam vir jou? Dit is tog nie net ‘n woord of ‘n benoeming nie, dit het gevoel en ‘n sekere waarde aan gekoppel.  Hoe mense jou naam gebruik, verbuig, misbruik, verkeerd spel of verkeerd uitspreek het altyd ‘n emosionele uitwerking op ‘n mens.

Daar is baie keer verbuigings van ons name wat byname word en solank ons pelle daardie byname met deernis en liefde gebruik kan die naampies hoe belaglik wees, dit voel eintlik goed om só ‘n bynaam te hê.  Maar dan is daar natuurlik ander wat weer aangewend word met baie moedswilligheid omdat dit so sigbaar seer is om daardie naam te hoor.  Vir ‘n man soos ek wat mooi dames ken wat dieselfde naam (selfs met dieselfde spelling!) as ek het, moes ook maar deurloop onder die byname. Gelukkig is daar weer ‘n ander klomp byname wat mens weer bietjie beter laat voel.

Die punt is dat ons voel ‘n mate van erkenning (en nie net herkenning nie) op grond van die manier hoe mense ons name gebruik.  Dink maar aan hoe dit voel as iemand wie jy gedink het jy teen hierdie tyd al ‘n redelike indruk op gemaak het, en veronderstel is om jou te ken, vir die soveelste keer jou naam verkeerd sê of sommer net vergeet.  Of hoe verrassend lekker dit is as iemand na wie jy opkyk, en volgens jou eintlik te groot en belangrik is om om te gee, tog wel jou naam onthou en weet wie jy is.

Ons het nou al in die afgelope tyd soveel keer en op soveel maniere na Jesaja 43 verwys sonder om regtig by hierdie punt stil te staan.  Vers 1 sê:

Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.

Ons kan so opgewerk raak oor hoe mense ons name onthou of vergeet of gebruik of misbruik, maar die wonderlike en allesoorheersende realiteit is die Belangrikste Persoon wat daar is, jou op jou naam ken!  Die Koning van die konings en die Skepper van die heelal wat alles gemaak het wat ons kan sien en nie kan sien nie – Hy is so groot dat Hy jou ook op jou naam ken.  Hy roep jou op jou naam en jy is Syne! Dit beteken dat Hy ook vir jou, op jou naam gesterf het, jou op jou naam verlos het, vir jou op jou naam lief is.  Jy is nie maar net toevallig ‘n mens wat maar toevallig hier op aarde rond swerf nie.  Jy het ‘n doel en jy behoort aan die Koning.

Die volgende keer as iemand vra “wat’s jou naam nouweer” of jou naam verkeerd sê, dink daaraan: God ken my naam!

 

Gedagte vir die dag – Bedoel wat jy verstaan

Die doksologie (‘n liturgiese formule of lied wat die Here prys) aan die einde van Romeine 11 val so goed op ‘n mens se oor.  Die ritme daarvan maak dat ‘n mens dit eintlik wil sing.  Maar soos baie lofliedere is dit ter selfde tyd ook ‘n diep geloofsbelydenis. Dit beteken dat wanneer ons hierdie woorde lees en wanneer ons lofliedere sing moet ons mooi dink oor wat ons sê.  Verstaan ons wat ons bedoel?

My pel sê dit altyd andersom: bedoel wat jy verstaan?  Dit maak in hierdie situasie so baie sin!  Dat ons sal bedoel wat ons verstaan.

Die woorde van ons liedere dien as lof en eer aan God maar kan ook leeg wees as dit nie uit ons harte kom en ons regtig bedoel wat ons sê nie.  Dit gaan tog ook oor die bedoeling van ons harte en nie alles net altyd oor wat ons met ons verstandjies verstaan nie!

So, ter selfde tyd is dit ook goed om hierdie, ander lofliedere, oor en oor met opregte lof in ons harte te sing en die woorde ons dan herinner aan Wie God is en so WORD dit dit wat ons glo en verstaan en bely oor God. Laat ons opregte bedoeling dan wees om die Here intensioneel, aspris, met ons hele harte en hele verstand te loof, met elke woord, en nie maar net uit gewoonte nie.

Kyk mooi na die woorde van Romeine 11:33-36 en dink na oor wat dit vir jou beteken en wat dit vir jou sê oor God.  Glo jy dit? As alle dinge “uit Hom en deur Hom en tot Hom is”, is dit ook waar van jou lewe? Leef jy ook “tot Hom”? Vir Hom, tot sy eer?

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
hoe onnaspeurlik sy weë!
“Wie ken die bedoeling van die Here?
Wie gee Hom raad?
Wie bewys Hom ‘n guns,
sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”
Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

Gedagte vir die dag – Hy verhoor my smeekgebede

Dit is interessant hoedat ons gesprek oor Jona en dit wat ons by Jona sien en beleef op soveel ander plekke in die Bybel weer en weer opkom.  So is daar byvoorbeeld Psalm 116 waar ons baie dieselfde taalgebruik en atmosfeer aantref as dit wat ons in Jona kry.  Hoor hoe klink vers 1-6 van die Psalm:

Ek het die Here lief,
want Hy verhoor my smeekgebede.
Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.
Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
Toe het ek die Naam van die Here aangeroep:
“Here, red my tog!”
Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos, maar Hy het my gered.
Dit bevestig o.a. net vandag weer dat jy (en Jona!) nie alleen is in jou belewenis nie en ook nie alleen is daar waar jy is nie.  Dit bevestig dat die Here is Wie Hy sê Hy is en Hy doen wat Hy sê Hy doen! Die Here is by jou.
As jy angstig is, benoud, of bekommerd is.  As jy hulpeloos of magteloos voel, die Here verhoor jou smeekgebede. Hy luister, Hy ontferm, Hy beskerm, Hy red.