Gedagte vir die dag – Die voëls hou aan sing

Verlede Vrydag (dis nou die dag van Murphy’s Law en die rioolwater-fontein) stap ek toe so ‘n (baie) kort entjie op die gholfbaan en wonder sommer oor die dag se gebeure en ter selfde tyd oor die beperkings van Lockdown en al die chaos rondom dit.  Maar soos wat ek loop kom ek agter dit lawaai eintlik iets vreesliks hier rondom my en word my aandag afgetrek van my eie gedagtes deur die geluide van al die verskillende voëls wat sing.

Mens hoor dit eintlik elke dag so in die verbygaan, maar op daardie oomblik was dit regtig opvallend. En hoe meer ek luister hoe meer verskillende liedjies hoor ek.  En hoe meer ek kyk hoe meer verskillende voëls sien ek.  ‘n Simfonie “van kleure en klank”. Dit was ‘n belewenis! So eenvoudig, maar groot genoeg dat ek op Maandag nog steeds nie dit afgeskud kan kry nie.

Dit sou mens seker kon verbygaan en sekerlik nie vir almal dieselfde betekenis hê nie, maar dit was asof die Here my op daardie oomblik kom herinner het dat Hy nog al die tyd sorg.  Dat Hy nog in beheer is. Dat alles aan Hom behoort en in sy Hand is. En skielik is my fokus nie meer op alles wat my bekommer nie, maar begin my hart ook saam met die voëltjies sing tot eer van Hom wat vir alles sorg.

Psalm 50:11 herinner ons daaraan as Hy sê: Ek ken al die voëls van die berge; al wat roer op die veld, is Myne.

Psalm 50 is nogal ‘n ernstige psalm waar die Here eintlik sy volk oproep tot lof en gehoorsaamheid – méér as net die gewone, meer as net rituele en gewoontes. Lees gerus die hele psalm, maar hierdie 2 verse spreek my vandag spesiaal aan.

In vers 15 gee Hy vir ons hierdie wonderlike uitnodiging, troos en versekering:

Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”