Ons almal het êrens in ons lewens al met Murphy’s Law te doen gekry: “Anything that can go wrong, will go wrong.” En party dae voel dit natuurik meer waar as ander. Die een ding na die ander gaan verkeerd en dan voel dit soos ‘n sneeubal effek na een groot gemors.
Jy ken daai dae: Jy verslaap. Daar is ‘n vlieg in jou koffie. Jou roosterbroodjie val botterkant ondertoe op die grond. Jou kar wil nie vat nie. Jy trap in ‘n grasperklandmyn. Jy sluit jou sleutels in jou kar toe. Die trok waaragter jy in die verkeer ry skiet ‘n klip teen jou kar se venster vas. Jou baas, wat nooit op ‘n Maandag by die kantoor is nie, se kar staan op jou parkeerplek. En dit gebeur alles voor 8 uur die oggend…
Ander dae, soos vanoggend, word jy dalk wakker van die klank van die fontein van (darem gesuiwerde) rioolwater wat teen jou kamervenster spuit… praat van ‘n rude awakening!
Nou partykeer kan ‘n mens eintlik maar net lag vir sulke situasies, maar ander kere is dit veel erger en meer kompleks en voel ‘n mens maar redelik hopeloos. Dit is dan wat ons baie keer vrae begin vra oor bv. waarom slegte dinge dan met goeie mense gebeur.
Maar natuurlik is die liefde van die Here baie groter as Murphy se wetjie. Romeine 8:28 sê:
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Ongelukkig is dit ook so dat ons baie keer hierdie versie soos ‘n pleistertjie oor elke klein mikrokrisissie probeer plak, wat ons dan weer los met meer vrae wanneer daar weer iets verkeerdloop. Maar die waarheid agter hierdie vers is soveel groter en het daarom juis ‘n invloed op die manier hoe ons krisisse en teleurstelling, lyding en vervolging hanteer en beleef.
Die wêreld is stukkend en vol pyn en lyding en al wil ons hoe graag hê dat dit anders moet wees, beteken die feit dat ons die Here ken nie dat ons nou net heeltyd in ‘n beskermende bubble-tjie leef nie en geen lyding beleef nie. Hoe gou vergeet ons dit nie. Maar die wonderlike is dat ons nie alleen is nie en dat ons juis binne die moeilikste omstandighede hoop kan hê omdat ons die Here ken en niks ons van sy liefde kan skei nie.
God is hier aan die werk en Hy laat alles ten goede meewerk – Hy maak dat ons aan Hom kan behoort! En die feit dat ons aan Hom behoort maak dat ons anders na die wêreld kyk. Kyk na die vorige 2 verse:
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.
Ons is nie alleen nie. En daar waar dit so sleg gaan met ons dat ons nie eers weet wat om te bid nie, help die Gees ons en pleit vir ons. Die Here, wat ook jou hart deurgrond, is by jou en jy behoort aan Hom.