Gedagte vir die dag – Nuut

Ons het gister tydens die erediens so vinnig verwys na Jesaja 43 se eerste paar verse wat vir ons die versekering gee dat die Here by ons is en dat ons daarom nie hoef bang te wees nie.  Maar daar is nog meer in hierdie hoofstuk om oor opgewonde te raak.

In vers 18-21 lees ons:

Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink
en by die verlede stilstaan nie.
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,
dit staan op die punt om te gebeur,
julle kan dit al sien kom;
Ek maak in die woestyn ‘n pad,
Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.
Die wilde diere sal My vereer,
die jakkalse en die volstruise,
omdat Ek water gee in die woestyn,
riviere in die droë wêreld
om my volk, my uitverkore volk, se dors te les.
Dit is die volk wat Ek vir My geskep het,
en wat my lof sal verkondig.

Nou is daar in hierdie tyd al soveel gesê oor die sg. “nuwe normaal” wat reeds aangebreek het of nog oppad is en waaraan ons nou maar gewoond moet raak en die nodige aanpassings in ons lewens maak. Dit voel egter so bietjie passief en amper apaties om so daaraan te dink. Dat die wêreld aan die verander is, is natuurlik ongetwyfeld waar, maar die vraag is wat doen ons as kinders van die Here in hierdie nuwe tyd? Waar staan ons? Wat verander in ons harte? Wat doen ons intensioneel anders?

Die volk hoor hierdie woorde in Jesaja aan die einde van die ballingskap, na jare se hartseer en hooplose lyding.  Waar dit gelyk het of die toekoms totaal en al uitsigloos was kom die Here en sê Hy gaan iets nuuts doen!  Ons kan weet dat die Here besig is, dat Hy aan die werk is en selfs al is ons soos die volk in ballingskap, of soos Jona totaal en al omring deur duisternis, is die Here nog hier by ons.  En kan ons verseker weet dat Hy vir ons ‘n doel voor oë het wat alles behalwe “normaal” is.

Dit beteken dat ons aan Hom kan vashou maar ook dat ons nie maar net kan bly by wat “normaal” is nie en onsself eerder beskikbaar te stel vir méér.  Die wêreld se normaal is negatiwiteit, afguns, onvergenoegd, selfsugtig.  Kom ons wees intensioneel anders, verander ons fokus en wees mense wat God se lof verkondig (Jes 43:21).

 

Verlange Dag 12 – Hulp

Daar is ‘n deel van die pad agter Tafelberg, daar in die omgewing van Kirstenbosch, wat dit voel asof die berg jou omtrent wil insluk.  Die kranse troon so hoog die hemel in dat mens omtrent nie die bokant van die bergtoppe deur die windskerm kan sien terwyl mens ry nie.  Vir ‘n bosveld outjie soos ek wat gewoond is aan koppies en aan die noordelike voet van die “groot” Magaliesberg groot geword het, was dit ‘n oorweldige belewenis om so op te kyk na die berge.  Elke keer as ek van daai kant van die berg af Houtbaai toe moes ry het ek gedink aan die psalmdigter van Psalm 121 wat opgekyk na die berge.

Psalm 121 is een van daardie OORbekende psalms wat ons amper te goed ken.  Natuurlik is daar goeie rede daarvoor dat ons dit uit ons koppe wil ken.  Elke keer as mens dit lees is daar iets nuuts om te ontdek.  Lees dit vandag weer in soveel verskillende vertalings as wat jy kan. Lees die psalm vandag met nuwe oë en kyk wat vandag in die Psalm vir jou uitstaan – wat jy nog nooit voorheen raakgesien het nie. Vir my persoonlik het die hoeveelheid kere wat die woord beskerm/Beskermer in die Psalm herhaal opnuut weer van die bladsy afgespring.  Waarlik die Here is ons Beskermer!

Hier is die nuwe Direkte Vertaling van die Psalm:

‘n Pelgrimslied.

Ek kyk op na die berge:
Waar sal my hulp vandaan kom?
My hulp is van die HERE,
wat hemel en aarde gemaak het.
Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie;
jou Beskermer sal nie insluimer nie.
Kyk, die Beskermer van Israel
sluimer nie in nie en Hy slaap nie.
Die HERE is jou Beskermer;
die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.
Bedags sal die son jou nie dodelik tref nie,
en snags ook nie die maan nie.
Die HERE sal jou beskerm teen elke onheil;
Hy sal jou lewe beskerm.
Die HERE sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm
van nou af en vir altyd.

Verlange Dag 11 – Gemoed

Ons is nou al amper gewoond daaraan om ons self voor te berei vir gemengde emosies as ons hoor dat die President weer die land gaan toespreek.  Daar is al klaar weer ‘n klomp grappies wat oral die rondte doen oor wat gebeur as ons die woorde “My fellow South-Africans…” hoor. Weereens ‘n bewys van hoe ons Suid-Afrikaners (waarskynlik meer as op enige ander plek in die wêreld!) amper onmiddelik enige ramp of tragedie met humor aanpak.

Dit sê iets van ons mense se ingebore vermoë om deur moeilike omstandighede positief te bly en vorentoe te beur.  Maar ek vermoed dat vreemdelinge wat van buite af kyk tussen al die grappies dalk die verkeerde idee kan kry.  Want ek is oortuig dat die humor waarmee ons dinge hanteer nie net ‘n blote pleistertjie is of ‘n vindingryke vermydingstegniek nie.  Onder die grappies en die lag wat ons saambind is daar sterk geloof en diep emosies wat ons dryf.

In hierdie jaar is ons gemoed tot nuwe uiterstes gerek en geknie en getoets en dit lyk asof dit nog vir ‘n rukkie gaan aanhou.  Die vraag is dan hoeveel ons gemoed nog kan vat en wat as ons voel dit raak nou te veel? Gaan ‘n mens dan nou sleg lyk of lyk of mens hoop verloor het as ons toelaat dat die emosie in ons gemoed opborrel en sigbaar word in trane?

Ons kry in die Afrikaanse Bybel een van die mooiste uitdrukkings.  En die plek waar dit staan en die feit dat dit gebeur gee vir my hoop oor ons eie emosies en juis daarom is daar hoop! Ons lees dat die Here Jesus se “gemoed vol geskiet” het.

Ons kry die uitdrukking twee maal in Johannes 11:33-38:

Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.” Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?” Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ‘n rotsgraf, en daar was ‘n klip voor die ingang gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”

Die Koning van die konings het nádat Hy vir Maria verseker het dat haar broer weer sal leef en geweet het dat Hy hom gaan opwek nog steeds nie die emosie in sy gemoed weggesteek nie.  Sy gemoed het vol geskiet. Dit sê vir my twee goed. Een is dat ons na die Here toe kan gaan met ons eie emosies en weet dat Hy dit verstaan en dit ken.  En twee, is dat selfs in die onmoontlikste, uitsiglose omstandighede ons op Hom kan vertrou by Wie niks onmoontlik is nie!

Onthou die Here Jesus se uitnodiging in Matteus 11:28-29 waar Hy sê:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.”

 

Verlange Dag 10 – Maraton

Die Comrades Maraton was nog altyd vir my ‘n fasinerende affêre.  Deels omdat ek nie kan dink dat mense so ver wil hardloop nie, en deels om te sien hoe hulle dit so goed kan regkry. Ek was nog nooit een vir lang afstande hardloop nie. Soos ek hier voor my rekenaar sit is ek op top spoed en ek kry miltsteek as ek net atletiek op TV kyk. Maar juis daarom het ek die wêreld se respek vir mense wat selfs net probeer om die Comrades aan te pak, wat nog van klaarmaak.  Dit vat guts! En volharding!

Oor die naweek het daar ‘n rekord getal mense aan die eerste virtuele Comrades deelgeneem.  Met alles wat in die wêreld aan die gang is, is die fisiese resies hierdie jaar gekanselleer. Selfoon tegnologie het dit egter moontlik gemaak dat mense hulle eie roete kon hardloop en die tyd en afstand vir beoordeling in stuur.  Mense kon ook vir verskillende afstande inskryf, van 5 tot 90 km.  Sowat 43788 mense van 109 lande reg oor die wêreld het aan die wedloop deelgeneem.  Dit voel soos ‘n bietjie goeie nuus tussen al die ander slegte nuus daar buite:

“CMA Chairperson, Cheryl Winn has thanked South Africans and the world at large for supporting what has been, The Ultimate Virtual Race, making it an all-round inclusive running affair, attracting runners, their families and friends, and showcasing the camaraderie and triumph of the human spirit in one epic event, especially in light of the Covid-19 pandemic, the subsequent lockdown and amidst the social distancing directives issued by governments around the world.” (comrades.com)

Dalk help hierdie prentjie ons so bietjie om iets te verstaan wat Paulus in Romeine 5 bedoel as hy sê “volharding kweek hoop” (swaarkry->volharding->geloof->hoop).  Natuurlik neem volharding verskillende vorme in mense se lewens aan en is die swaarkry waarvan Paulus praat ook ‘n veelkantige saak. Vir party is dit 90 km, vir ander 5 km.  Vir party is dit siekte, trauma, werk, depressie, verhoudings, Lockdown….

Om as kinders van die Here te volhard is nie maklik nie – om aan te hou om die Here te dien, aan Hom vas te hou, van Hom te getuig, selfs in die moeilikste omstandighede. Maar dit sê iets oor ons en oor die God wat ons dien! Dit is ‘n getuienis van die liefde van die Here en doen nie net iets in ons eie gemoed om ons te versterk nie, maar vertel ook vir die wêreld Wie ons bron van hoop is.  Ons hoop staan “soveel vaster” (Rom 5:9-10) want Hy het ons vrygemaak.

Lees gerus weer die hele hoofstuk, maar Romeine 5:1-5 sê:

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

 

Verlange Dag 9 – Oupa

My oupa Bussie was ‘n weermag man.  Hy was die RSM en daarom die ou met die snor wat almal bang gemaak het. Hy was altyd pynlik netjies en het sekergemaak almal om hom is heeltyd netjies en gestryk.  Ten spyte daarvan het hy die gewoonte gehad om af te buk en op een knie te staan om met een van sy kleinkinders of agterkleinkinders te praat. Hy het nie omgegee dat sy ou bene pyn of dat sy perfek netjiese broek vuil word nie.  Hy het afgebuig om te luister, om 100% aandag en respek te gee. In die videotjie kan jy sien hoe oupa een Kersfees op die mat langs klein Pieter sit om grappies in sy oor te fluister.

Die prentjie van hierdie groot en waardige man wat op sy knie staan en nie omgee om vuil te word nie, laat my altyd onwillikeurig aan Psalm 40:2 dink.  Die prentjie van die Here wat ons hulpgeroep hoor en afbuig en hoor en selfs in ons vuil wêreld kom inklim ter wille van ons.

Kom ons spandeer tyd met die psalm. Lees dit. Bid daaroor.  Lees dit weer in nog ‘n vertaling. Laat dit in ons gedagtes maal vandag en kom ons praat met die Here daaroor.  Hier is die 1983 vertaling:

1Vir die koorleier. Van Dawid. ‘n Psalm.

2Ek het gesmag na die hulp van die Here.
Hy het na my toe afgebuig
en my hulpgeroep gehoor.
3Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,
uit die slymerige modder,
my op ‘n rots laat staan
en my weer op vaste grond laat loop.
4Hy het my ‘n nuwe lied in die mond gelê,
‘n loflied vir ons God.
Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring,
hulle sal op die Here vertrou!
5Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel
en hom nie wend tot duister magte
en tot mense wat hulle met skyngode ophou nie.
6Here my God, U het baie wonderlike dinge gedoen;
U dink altyd aan ons;
daar is niemand soos U nie.
Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat,
maar dit is te veel om op te noem.

7Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie,
nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie;
U wil gehoorsaamheid hê.
8Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom
soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is.
9Om u wil te doen, my God, is my een begeerte,
u woord is my hele lewe.”
10Met blydskap het ek aan die gemeente vertel
U het my verlos.
Ek het nie stilgebly nie,
Here, U weet dit!
11Dat U verlos, het ek nie vir myself gehou nie,
ek het gepraat oor u trou en u hulp.
Oor u goedheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie.
12Moet my tog nie uitsluit van u ontferming nie, Here,
laat u liefde en trou my voortdurend bewaak,
13want ramp op ramp het my oorval,
my ongeregtighede het my ingehaal;
ek weet nie meer waarheen nie.
Hulle is meer as die hare op my kop;
ek is moedeloos.

14Here, red my tog asseblief!
Here, kom my tog gou te hulp!
15Laat dié wat my lewe wil neem, self in die ellende beland,
teleurgestel in hulle verwagting;
laat dié wat graag my ondergang wil sien,
op die vlug slaan en beskaamd staan.
16Laat dié wat my spot,
verbysterd staan omdat hulle self in die ellende beland het.
17Laat almal wat by U hulp soek, jubel en bly wees oor U,
laat dié wat op u hulp staatmaak,
altyddeur sê: “Die Here is groot!”

18Ek is hulpeloos en arm,
maar die Here dink aan my.
U is my hulp en my redder;
my God, moet tog nie talm nie!