Ons het gister tydens die erediens so vinnig verwys na Jesaja 43 se eerste paar verse wat vir ons die versekering gee dat die Here by ons is en dat ons daarom nie hoef bang te wees nie. Maar daar is nog meer in hierdie hoofstuk om oor opgewonde te raak.
In vers 18-21 lees ons:
Nou is daar in hierdie tyd al soveel gesê oor die sg. “nuwe normaal” wat reeds aangebreek het of nog oppad is en waaraan ons nou maar gewoond moet raak en die nodige aanpassings in ons lewens maak. Dit voel egter so bietjie passief en amper apaties om so daaraan te dink. Dat die wêreld aan die verander is, is natuurlik ongetwyfeld waar, maar die vraag is wat doen ons as kinders van die Here in hierdie nuwe tyd? Waar staan ons? Wat verander in ons harte? Wat doen ons intensioneel anders?
Die volk hoor hierdie woorde in Jesaja aan die einde van die ballingskap, na jare se hartseer en hooplose lyding. Waar dit gelyk het of die toekoms totaal en al uitsigloos was kom die Here en sê Hy gaan iets nuuts doen! Ons kan weet dat die Here besig is, dat Hy aan die werk is en selfs al is ons soos die volk in ballingskap, of soos Jona totaal en al omring deur duisternis, is die Here nog hier by ons. En kan ons verseker weet dat Hy vir ons ‘n doel voor oë het wat alles behalwe “normaal” is.
Dit beteken dat ons aan Hom kan vashou maar ook dat ons nie maar net kan bly by wat “normaal” is nie en onsself eerder beskikbaar te stel vir méér. Die wêreld se normaal is negatiwiteit, afguns, onvergenoegd, selfsugtig. Kom ons wees intensioneel anders, verander ons fokus en wees mense wat God se lof verkondig (Jes 43:21).