Die Comrades Maraton was nog altyd vir my ‘n fasinerende affêre. Deels omdat ek nie kan dink dat mense so ver wil hardloop nie, en deels om te sien hoe hulle dit so goed kan regkry. Ek was nog nooit een vir lang afstande hardloop nie. Soos ek hier voor my rekenaar sit is ek op top spoed en ek kry miltsteek as ek net atletiek op TV kyk. Maar juis daarom het ek die wêreld se respek vir mense wat selfs net probeer om die Comrades aan te pak, wat nog van klaarmaak. Dit vat guts! En volharding!
Oor die naweek het daar ‘n rekord getal mense aan die eerste virtuele Comrades deelgeneem. Met alles wat in die wêreld aan die gang is, is die fisiese resies hierdie jaar gekanselleer. Selfoon tegnologie het dit egter moontlik gemaak dat mense hulle eie roete kon hardloop en die tyd en afstand vir beoordeling in stuur. Mense kon ook vir verskillende afstande inskryf, van 5 tot 90 km. Sowat 43788 mense van 109 lande reg oor die wêreld het aan die wedloop deelgeneem. Dit voel soos ‘n bietjie goeie nuus tussen al die ander slegte nuus daar buite:
“CMA Chairperson, Cheryl Winn has thanked South Africans and the world at large for supporting what has been, The Ultimate Virtual Race, making it an all-round inclusive running affair, attracting runners, their families and friends, and showcasing the camaraderie and triumph of the human spirit in one epic event, especially in light of the Covid-19 pandemic, the subsequent lockdown and amidst the social distancing directives issued by governments around the world.” (comrades.com)
Dalk help hierdie prentjie ons so bietjie om iets te verstaan wat Paulus in Romeine 5 bedoel as hy sê “volharding kweek hoop” (swaarkry->volharding->geloof->hoop). Natuurlik neem volharding verskillende vorme in mense se lewens aan en is die swaarkry waarvan Paulus praat ook ‘n veelkantige saak. Vir party is dit 90 km, vir ander 5 km. Vir party is dit siekte, trauma, werk, depressie, verhoudings, Lockdown….
Om as kinders van die Here te volhard is nie maklik nie – om aan te hou om die Here te dien, aan Hom vas te hou, van Hom te getuig, selfs in die moeilikste omstandighede. Maar dit sê iets oor ons en oor die God wat ons dien! Dit is ‘n getuienis van die liefde van die Here en doen nie net iets in ons eie gemoed om ons te versterk nie, maar vertel ook vir die wêreld Wie ons bron van hoop is. Ons hoop staan “soveel vaster” (Rom 5:9-10) want Hy het ons vrygemaak.
Lees gerus weer die hele hoofstuk, maar Romeine 5:1-5 sê:
“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”