My oupa Bussie was ‘n weermag man. Hy was die RSM en daarom die ou met die snor wat almal bang gemaak het. Hy was altyd pynlik netjies en het sekergemaak almal om hom is heeltyd netjies en gestryk. Ten spyte daarvan het hy die gewoonte gehad om af te buk en op een knie te staan om met een van sy kleinkinders of agterkleinkinders te praat. Hy het nie omgegee dat sy ou bene pyn of dat sy perfek netjiese broek vuil word nie. Hy het afgebuig om te luister, om 100% aandag en respek te gee. In die videotjie kan jy sien hoe oupa een Kersfees op die mat langs klein Pieter sit om grappies in sy oor te fluister.
Die prentjie van hierdie groot en waardige man wat op sy knie staan en nie omgee om vuil te word nie, laat my altyd onwillikeurig aan Psalm 40:2 dink. Die prentjie van die Here wat ons hulpgeroep hoor en afbuig en hoor en selfs in ons vuil wêreld kom inklim ter wille van ons.
Kom ons spandeer tyd met die psalm. Lees dit. Bid daaroor. Lees dit weer in nog ‘n vertaling. Laat dit in ons gedagtes maal vandag en kom ons praat met die Here daaroor. Hier is die 1983 vertaling:
1Vir die koorleier. Van Dawid. ‘n Psalm.
2Ek het gesmag na die hulp van die Here.
Hy het na my toe afgebuig
en my hulpgeroep gehoor.
3Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,
uit die slymerige modder,
my op ‘n rots laat staan
en my weer op vaste grond laat loop.
4Hy het my ‘n nuwe lied in die mond gelê,
‘n loflied vir ons God.
Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring,
hulle sal op die Here vertrou!
5Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel
en hom nie wend tot duister magte
en tot mense wat hulle met skyngode ophou nie.
6Here my God, U het baie wonderlike dinge gedoen;
U dink altyd aan ons;
daar is niemand soos U nie.
Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat,
maar dit is te veel om op te noem.
7Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie,
nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie;
U wil gehoorsaamheid hê.
8Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom
soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is.
9Om u wil te doen, my God, is my een begeerte,
u woord is my hele lewe.”
10Met blydskap het ek aan die gemeente vertel
U het my verlos.
Ek het nie stilgebly nie,
Here, U weet dit!
11Dat U verlos, het ek nie vir myself gehou nie,
ek het gepraat oor u trou en u hulp.
Oor u goedheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie.
12Moet my tog nie uitsluit van u ontferming nie, Here,
laat u liefde en trou my voortdurend bewaak,
13want ramp op ramp het my oorval,
my ongeregtighede het my ingehaal;
ek weet nie meer waarheen nie.
Hulle is meer as die hare op my kop;
ek is moedeloos.
14Here, red my tog asseblief!
Here, kom my tog gou te hulp!
15Laat dié wat my lewe wil neem, self in die ellende beland,
teleurgestel in hulle verwagting;
laat dié wat graag my ondergang wil sien,
op die vlug slaan en beskaamd staan.
16Laat dié wat my spot,
verbysterd staan omdat hulle self in die ellende beland het.
17Laat almal wat by U hulp soek, jubel en bly wees oor U,
laat dié wat op u hulp staatmaak,
altyddeur sê: “Die Here is groot!”
18Ek is hulpeloos en arm,
maar die Here dink aan my.
U is my hulp en my redder;
my God, moet tog nie talm nie!