Daar is ‘n deel van die pad agter Tafelberg, daar in die omgewing van Kirstenbosch, wat dit voel asof die berg jou omtrent wil insluk. Die kranse troon so hoog die hemel in dat mens omtrent nie die bokant van die bergtoppe deur die windskerm kan sien terwyl mens ry nie. Vir ‘n bosveld outjie soos ek wat gewoond is aan koppies en aan die noordelike voet van die “groot” Magaliesberg groot geword het, was dit ‘n oorweldige belewenis om so op te kyk na die berge. Elke keer as ek van daai kant van die berg af Houtbaai toe moes ry het ek gedink aan die psalmdigter van Psalm 121 wat opgekyk na die berge.
Psalm 121 is een van daardie OORbekende psalms wat ons amper te goed ken. Natuurlik is daar goeie rede daarvoor dat ons dit uit ons koppe wil ken. Elke keer as mens dit lees is daar iets nuuts om te ontdek. Lees dit vandag weer in soveel verskillende vertalings as wat jy kan. Lees die psalm vandag met nuwe oë en kyk wat vandag in die Psalm vir jou uitstaan – wat jy nog nooit voorheen raakgesien het nie. Vir my persoonlik het die hoeveelheid kere wat die woord beskerm/Beskermer in die Psalm herhaal opnuut weer van die bladsy afgespring. Waarlik die Here is ons Beskermer!
Hier is die nuwe Direkte Vertaling van die Psalm:
‘n Pelgrimslied.
Ek kyk op na die berge:
Waar sal my hulp vandaan kom?
My hulp is van die HERE,
wat hemel en aarde gemaak het.
Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie;
jou Beskermer sal nie insluimer nie.
Kyk, die Beskermer van Israel
sluimer nie in nie en Hy slaap nie.
Die HERE is jou Beskermer;
die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.
Bedags sal die son jou nie dodelik tref nie,
en snags ook nie die maan nie.
Die HERE sal jou beskerm teen elke onheil;
Hy sal jou lewe beskerm.
Die HERE sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm
van nou af en vir altyd.