Vlak 4 Dag 13 – Golwe

Meeste van ons moes al eenkeer in ons lewe die lessie leer om nie met die see se golwe te mors nie.  Net as jy dink jy swem nou lekker en begin nou hierdie ding onder beheer kry dan kom die see en herinner jou wie is eintlik baas.  Dit is dan wat jy ná ‘n klompie kere wat jy probeer uitwerk het watter kant nou eintlik bo is, met ‘n rooi gesig, uitasem, die sand uit jou oë, ore en oral anders probeer uitgrou.  Vir die volgende rukkie swem jy dan weer bietjie versigtiger…

Nou voel hierdie tyd ook soms so: en die golwe lyk of hulle net al groter en groter word en die water al souter en kouer.  Ons lees in Psalm 93 waar die psalmdigter ook so iets beleef en hy tussen die golwe na die Here roep om hulp.  Vers 3, in die Ou Vertaling, klink so:

Die riviere, o HERE, het verhef,
die riviere het hulle gebruis verhef;
die riviere verhef hulle geraas!

Die golwe bou op en rol oor hom en hou aan en aan soos die stroom van die rivier aanhou vloei en nog groter branders maak.  Maar dan lees ons in vers 4 die volgende woorde:

Meer as die gebruis van groot, geweldige waters,
van die golwe van die see,
is die Here geweldig in die hoogte!

As ons maar kon weet hoe geweldig die Here is! Hy wat groter is as die golwe wat om ons woed en selfs die waters in die holte van sy Hand afgemeet het (Jes 40:12). Groot is die Here, magtig en geweldig. Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Vlak 4 Dag 12 – Stof

Gister se dagstukkie se woestynbeeld het my toe aan Psalm 103 laat dink.  Vers 14-16 se woorde:

Hy weet waarvan ons gemaak is,
Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.
Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras,
soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan:
as die woestynwind daaroor waai, is dit weg
en sy plek vir altyd leeg.

As mens so na al die statistieke van die pandemie kyk en die wêreldkaart beskou en sien hoeveel duisende mense daar al in plekke soos Italië, Spanje en die VSA oorlede is dan word die prentjie van hierdie verse ‘n vreesaanjaende werklikheid. Die kortstondigheid van ons bestaan.

Gelukkig vir ons is daar ook in hierdie Psalm ‘n “maar”.  Dit is die maar van die Evangelie, die Blye Boodskap.  Daar is hoop en vreugde en vrede by die Here, ten spyte van al die vrese van die lewe en die dun draadjie waaraan dit hang. Vers 17-19 sê:

Maar onverganklik is die liefde van die Here
vir dié wat Hom dien,
sy trou vir opeenvolgende geslagte,
vir dié wat getrou bly aan sy verbond
en sy voorskrifte nakom.
Die Here het sy troon in die hemel gevestig,
sy heerskappy strek oor alles en almal.

Sy liefde is onverganklik en sy heerskappy staan vas! En hoe kan ons dan anders as om ook ons stemme te wil voeg by die hele skepping en die Here te wil loof!  Vers 20-22:

Loof die Here, magtige engele
wat sy opdragte uitvoer,
sy bevele gehoorsaam.
Loof die Here, alle hemelwesens
wat Hom dien en sy wil doen!
Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here
op al die plekke waar Hy heers!
Ek wil die Here loof!

Vlak 4 Dag 11 – Woestyn

Die woorde van Psalm 63 het my vandag sommer in een van daai stoeigrepe vasgegryp – een van daai waaruit mens nie kan kom sonder om oor te gee nie. Vers 4 sê: U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys.” Die Ou Vertaling klink so: Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.”

Dawid skryf dit ná sy verblyf in die woestyn, sê vers 1 vir ons.  Mens hoor die desperaatheid, die oorgawe, die totale afhanklikheid.  Daar is slegs een bron van hoop, en dit is die Here self.  Mag dit ook ons belydenis en gebed wees en mag jy ook by Hom rus en vrede vind en aanhou om Hom te loof en prys.

Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U;
ek smag na U
soos in ‘n dor en droë land,
‘n land sonder water.
Ek wil by U in die heiligdom wees
om daar u mag en grootheid te ondervind.
U troue liefde is meer werd as die lewe;
daarom sal ek U prys.
Ek sal U my lewe lank loof,
my hande ophef om u Naam te prys.
Soos elke keer wanneer ek u goeie gawes geniet,
sal ek U altyd roem met jubelende mond.
As ek aan U dink op my bed,
oor U peins in die nag, dan weet ek:
U is vir my ‘n hulp,
en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels.
Ek bly altyd naby U,
u hand ondersteun my.

Vlak 4 Dag 9 – Post Tenebras Lux

Een van die herinneringe wat my bybly van toe ons nog in die Kaap gebly het is toe ons besoek afgelê het by die Hugenote Museum in Franschhoek.  Die geboue en die tuine en die hele geskiedenis wat agter dit lê is aangrypend.

Op een deel van die gebou is die latynse leuse van die reformasie aangebring: “Post Tenebras Lux“.  Dit beteken: “Ná Duisternis, Lig”.  ‘n Kreet van hoop in ‘n donker tyd. Op daardie stadium, toe ek daar gestaan het en foto’s neem, kon ek nie anders as om aan die woorde van die lied van Attalus, ook met die titel “Post Tenebras Lux”, te dink nie:

“When faith starts breaking at the seams, let us not forget
The end will justify the means, and we are not there yet
So keep on walking through the night; after darkness comes the morning light”

Ons kan dit ook vandag sê omdat ons die Lig vir die wêreld ken!  Die Een wat gekom het om lig te bring in die duisternis.  Onthou wat Jesaja 9:1 vir ons sê:

“Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.”

Maar ons weet ook dat die duisternis nie die oorhand kan kry nie, omdat ons Here ook die mag het oor die dood en oor elke ander vorm van duisternis. Johannes 1 bevestig dit in vers 4 en 5:

In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”

Vlak 4 Dag 8 – Geduldig

Dit wil lyk asof die Lockdown al erger inwerk op ons geduldspiere… hoe langer dit aanhou hoe meer vrae, hoe meer senuwees, hoe meer spanning, hoe meer negatiewe fopnuus, hoe meer agressie.

Ons beleef iets van die emosie van Klaagliedere 3:18-20 (alhoewel dit ‘n goeie oefening sal wees om weer ‘n slag die hele Klaagliedere deur te lees om te sien waaroor hierdie woorde regtig gaan):

Ek het gedink dit is klaar met my
en met my hoop op die Here.
Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my;
as ek daaroor nadink,
draai my gedagtes vas.

Voel jy dalk ook vandag so? Kom ons lees verder (vers 21-26):

Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here

Dalk is dit juis die oefening wat ons geduldspiere nodig het: om elke môre die Here se oneindige ontferming weer opnuut rondom ons te soek, te ontdek en raak te sien.  Dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here!