Uitgestel Dag 9 – Sing ‘n nuwe lied
Ons het vroeër in die week Psalm 97 gelees en nou kan mens tog nie langer uithou om dan Psalm 98 ook te wil lees nie. ‘n Oproep om ‘n nuwe lied te sing – die oues is nie groot genoeg om die Here se oorwinning te besing nie. Onthou die psalmdigters gaan met hulle rug gedraai na die toekoms en hulle gesigte na die verlede die toekoms in. Hulle onthou die groot dade van die Here en weet omdat Hy is Wie Hy sê Hy is en doen wat Hy sê Hy doen sal Hy dit weer doen, is die oorwinning seker.
Kyk terug oor jou eie lewe vandag en dink aan alles wat die Here vir jou doen en loof Hom daarvoor. Dan kan ons ons stemme ook voeg by die riviere en die berge en die see en alles wat lewe en al die instrumente en ‘n nuwe lied tot eer van God sing!
Uitgestel Dag 8 – Maar hou moed…
Toe ek op hoërskool was het ek ‘n boek gelees wat gehandel het oor martelare – mense wat ernstig moes ly of sterf vir hulle geloof in Jesus. Dit is ‘n versameling van stories wat strek van Stefanus wat gestenig is (Handl. 7) tot soortgelyke stories van mense in die laat 90’s, wanneer die boek verskyn het. Dit is stories van volharding en dapperheid en hoop. Maar ook van die Here se sorg en getrouheid en groot krag.
Die boek is vol aanhalings uit die Bybel, maar ook van mense in die meer onlangse geskiedenis. Regte mense wat regte lyding beleef het en regtig in die moeilikste omstandighede aangehou het om aan die Here vas te hou. En soos wat die gebruik mos maar is wanneer iemand se woorde in ‘n boek aangehaal word, word die persoon se naam, en soms ook die betrokke plek en datum, by die aanhaling aangedui.
So is daar byvoorbeeld so ‘n aanhaling met ‘n naam en ‘n jaartal by:
“He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose.” – Jim Elliot. Ecuador, 1956
So blaai ek deur die boek en lees al hierdie aangrypende stories van mense wat werklik besef het dat daar ‘n groter Werklikheid is as die skrikwekkende werklikheid wat hulle in die gesig staar. Besef het waar hulle Hoop lê. Besef het dat wat hulle nie kan verloor nie is die liefde en die ewige lewe wat daar is in Christus Jesus ons Here. Dieselfde Jim Elliot het as sendeling ‘n martelaarsdood gesterf.
Maar toe blaai ek mos nog bietjie verder en sien ek die volgende aanhaling, ook met ‘n naam en ‘n jaartal by:
“These things I have spoken to you, that in Me you may have peace. In the world you have tribulation, but take courage; I have overcome the world.” – Jesus. 33 AD
Vir een of ander rede tref dit my hoërskool brein toe kliphard en slaan amper my wind uit. Gewoonlik sit ons mos by aanhalings uit die Bybel net die teksvers by as aanduiding van waar dit staan. Hier staan dit. Jesus, die Koning van die konings, die Here van die heelal, het werklik, rêrig hier tussen ons kom loop, in ons geskiedenis kom inklim en met sy eie mond hierdie woorde kom sê! Hy is nie net ‘n idee op papier nie, Hy is die alsoorheersende Werklikheid en Hy sê dat ons kan moed hou want Hy het klaar die wêreld oorwin.
“Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” – Jesus (Johannes 16:33)
Uitgestel Dag 7 – Die Here Regeer
Ek hoor gister weer die woorde van Psalm 97 wat voorgelees word in ‘n lied en toe slaan dit my sommer net weer tussen die oë: die Here regeer! Hy is in beheer en is groter as enige iets wat probeer om ons wêreld uit sy wentelbaan te stamp. Hy is groter as enige iets of iemand anders waarop ons ons hoop sou wou sit. Ook groter as enige iemand wat probeer god speel en die wêreld beheer. Ons kan maar aanhou om Hom te dien en aan Hom vas te hou – Hy is in beheer!
Ek los die woorde van Psalm 97 net hier vir jou:
Die Here regeer, die aarde moet juig,Uitgestel Dag 6 – Meer as Oorwinnaars
Romeine 8 is vol bemoedigende woorde. As ons vers 31-39 lees en die verse wat uitstaan en vir ons hoop en vrede gee, wil onderstreep gaan ons eintlik maar elke liewe vers kan onderstreep! Lees gerus die hele gedeelte in elke vertaling tot jou beskikking.
Hierde woorde moes die gemeente in Rome in tye van ernstige nood en vervolging dra. Kyk na die dinge wat Paulus noem in vers 35:
“Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard”
Hierdie is rowwe dinge wat hulle moes deurgaan. Nie sommer net ligte ontberings nie. Dit is binne in hierdie situasie wat hierdie woorde van Paulus na hulle toe kom. Hoe hanteer mens dit? Hoe verdra mens hierdie dinge? In vers 37 antwoord hy:
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.“
Meer as oorwinnaars. Hulle sal nie net oor hierdie dinge oorwin nie, nie net-net, naelskraap wen nie – nee, hy praat van ‘n huper-oorwinning! ‘n Oorweldigende, klinkende oorwinning. Die gelowiges sal, met ander woorde, nie net wen nie, maar selfs sterker aan die ander kant uit kom. Versterk in geloof. Versterk in geduld en gemoed en krag. Versterk om te kan aangaan – om aan te hou getuig van die Here, selfs in moeilike omstandighede.
Waar kom hierdie oorwinning vandaan? Die liefde van die Here waarvan niks ons kan skei nie! Nie eers Corona of enige ander virus nie. Nie eers die dood nie, want Hy het reeds die dood oorwin!
Romeine 8 vers 38 en 39:
“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”