Ek hoor gister weer die woorde van Psalm 97 wat voorgelees word in ‘n lied en toe slaan dit my sommer net weer tussen die oë: die Here regeer! Hy is in beheer en is groter as enige iets wat probeer om ons wêreld uit sy wentelbaan te stamp. Hy is groter as enige iets of iemand anders waarop ons ons hoop sou wou sit. Ook groter as enige iemand wat probeer god speel en die wêreld beheer. Ons kan maar aanhou om Hom te dien en aan Hom vas te hou – Hy is in beheer!
Ek los die woorde van Psalm 97 net hier vir jou:
Die Here regeer, die aarde moet juig,al die baie eilande moet bly wees!
Die Here is omgewe van donker wolke;
sy troon is gebou op reg en geregtigheid.
‘n Vuur trek voor Hom uit
en verteer sy vyande aan alle kante.
Sy weerligstrale verlig die wêreld;
die aarde sien dit en bewe.
Berge smelt soos was voor die Here,
voor die Here van die aarde.
Die hemel getuig dat Hy regverdig is
en al die volke sien sy magtige verskyning.
Almal wat beelde dien,
wat nikswerd afgode vereer, word ontnugter,
want al hulle gode moet voor die Here buig.
Sion is bly, die stede van Juda juig
wanneer hulle hoor wat U as regter gedoen het, Here.
U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde,
hoog verhewe bo alle gode.
Julle het die Here lief; haat dan wat sleg is!
Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars,
Hy red hulle uit die greep van die goddelose.
Vir die regverdiges het daar lig gekom,
blydskap vir die opregtes.
Wees bly in die Here, regverdiges,
prys sy heilige Naam.