Afgesonder Dag 20 – Moenie bang wees nie!

Vrees. Natuurlik is vrees een van die verskeidenheid van die emosies wat so nou en dan sy grillerige kop uitsteek in hierdie tyd.  As ons gekonfronteer word met al die onsekerheid oor ons veiligheid, finansiële sekuriteit, die toekoms, die skool, die impak van die virus ens. ens. ens. Hoe kan dit dan nou anders?  Maar die Here se krag en teenwoordigheid kan daardie vrees omkeer en verander in vreesloosheid.  Dit maak dat ons nie meer gevangenes van ons vrees is nie, maar die dinge wat ons bang maak in die gesig kan staar.  Vry om nog voluit te lewe tot God se eer!

Die Here se woord kom na die volk toe waar hulle in ballingskap sit.  Praat van afsondering!  Hulle moes ekstreme “social distancing” toepas.  Hulle was gevangenes in ‘n vreemde land met ‘n vreemde kultuur en godsdiens en vreemde mense.  Ver van hulle huise en familie en van Jerusalem en die tempel af.  Dit het daarom ook vir hulle baie keer gevoel of hulle daarom ver van God af is.  Hulle Lockdown tyd was so bietjie langer as ons s’n… ongeveer 50 jaar langer!

Dit is binne in hierdie situasie dat die Here vir hulle sê om nie bang te wees nie. In Jesaja 43:1-5 lees ons:

Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.
As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,
deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte as losprys vir jou,
Kus en Seba in jou plek.
Omdat jy vir My kosbaar is,
omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.
Moenie bang wees nie,
Ek is by jou.

Sjoe!! Die Here sê nie net moenie bang wees, “want alles sal okay wees” nie.  Hy SELF is die rede waarom ons nie hoef bang te wees nie!

Moenie bang wees nie, want:

  • EK het jou gemaak
  • EK verlos jou
  • EK roep jou op jou naam – jy is myne!
  • EK is by jou
  • EK is die Here jou God
  • EK is jou Redder
  • EK veg vir jou
  • EK het jou lief

Die Here is groot.  So groot dat Hy die hemel en die aarde geskep het.  Maar ook so groot dat Hy ons elkeen se harte en al ons emosies ken.  Hy is so groot dat alles wat Hy hierbo oor Homself sê vandag nog vir ons ook waar is.  En Hy is so groot dat Hy nie net dit sê nie, maar dat Hy dit alles oor Homself bewys – Hy doen wat Hy sê deur vir ons aan die kruis te kom sterf.

Moenie bang wees nie, die HERE is by jou! Hy roep jou op jou naam, jy is Syne!

Afgesonder Dag 19 – Al wat ek wens

Paulus skryf in Filippense 3:7-11 oor sy hartsbegeerte:

Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Dit is opvallend hoe hy speel met die tye van die werkwoorde wat hy gebruik – die spel tussen dit wat WAS en dit wat NOU is.  Dit wat ‘n bate was is nou waardeloos. Hy HET alles prysgegee om NOU Christus as enigste bate te kry.  God gee nou vryspraak.  Hy wil NOU Christus ken, die krag van sy opstanding ondervind. Die oue is verby en die nuwe het gekom!

Paulus skryf hierdie woorde omtrent 20-30 jaar ná Christus se hemelvaart. Jesus lankal nie meer daar nie!  Of so sou dit uit die ongelowige se oogpunt lyk. Maar vir Paulus is Jesus die een allesoorheersende lewende werklikheid!  Die Een wat opgestaan het en wat NOU lewe en wat NOU sin gee aan die lewe.  Omdat Hy NOU teenwoordig is deur sy Heilige Gees wat in gelowiges woon.

Die tweede opvallende saak hier is dat hy sê dat al wat hy wens is om Christus te ken! Nie die leer van die opstanding, of die teologie van die opstanding nie, maar Jesus Christus self.  Die Christus wat opgestaan het en nou lewe! Ken jy die Christus? Nie soos in “ek sal Hom herken as ek in die straat by Hom verbyloop” nie – het jy ‘n persoonlike verhouding met Hom?

Daar is ‘n Duitse kortverhaal met die titel: “Der reichste Mann des Dorfes“, in Afrikaans vertaal: “Die rykste man in die dorp”. Dit gaan oor ‘n besondere ryk en selfgenoegsame man, verreweg die rykste man in die dorp.

Een oggend ry hy deur die woud wat naby die dorp was en skielik hoor hy ‘n geluid. Toe hy fyner luister, blyk dit dat dit ‘n ou en baie arm man van die dorpie was, besig met ‘n eenvoudige gebed. Hy was besig om vir God te dank vir ‘n stuk brood en ‘n beker water. Dit was vir die ryk man so vreemd, dat dit hom onrustig gestem het. Met al sy skatte het dit nooit by hom opgekom om God te dank nie. Nadat hy weggery het, wou die beeld van die ou man hom nie los nie.

Intussen het ‘n storm opgesteek, die lug verdonker en die woud verkoel. ‘n Neerdrukkende gevoel, soos van naderende onheil, het oor die ryk man gekom. Skielik was dit asof hy ‘n stem gehoor het wat vir hom sê: “Vannag gaan die rykste man in die dorp sterf.” Verskrik en ontsteld het hy huis toe gejaag en die dokter ontbied. Dit was vir hom ‘n nag van doodsangs en ellende. Met die eerste strale van die oggendson in sy kamer, het hy weer kleur in sy gesig gekry en meer gerus begin voel. In die dorp hoor hy toe later die dag, dat die dood wel die nag toegeslaan het. Die ou man wat hy die vorige dag sien bid het, het die nag gesterf.

By sy terugkeer vanuit die dorp, het sy vrou hom laggend gespot en gesê dat die geheimsinnige stem slegs sy verbeelding was. Die nag was immers lank reeds verby en hy leef nog. “Sekerlik”, het hy vir haar gesê, “maar die stem was tog reg. Vannag het die rykste man in die dorp wel gesterwe.” “Hoe kan dit tog wees?” het sy vrou gevra. “Wie is hier wat ryker is as ons?” Daarop het hy haar geantwoord: “Dié man wat vir God kan sê: ‘Buiten U begeer ek niks in die hemel en op die aarde nie …’ Hy was die rykste man in ons dorp.”

Derdens, as ons bietjie verder lees, dan val Paulus se inspanning vir die Here ons op – vers 12-14:

Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Is daar by ons ook hierdie begeerte om ons in te span ter wille van Hom omdat Hy ter wille van ons, alles gegee? Nie op grond van nuwe soort wettisisme nie – maar omdat Hy my reeds syne gemaak het. Vanuit my nuwe posisie as verloste – wat met die krag van sy opstanding mag lewe.

Mag elkeen van ons ook die krag van die opstanding beleef en daaruit lewe en mag ons ook, soos Paulus, kan uitroep: “Al wat ek wens is om Christus te ken!”  Nie eendag lank van nou af nie, maar HIER en NOU, want Hy leef en Hy is by jou!

Afgesonder Dag 18 – ‘n Hoenner wat ‘n eier nie kan lê

Al hierdie videos op Facebook van die mense met hulle rou eiers het my êrens herinner aan die liedjie “Daar’s ‘n hoender wat ‘n eier nie kan lê, dit is die haan wat op die kerktoring staan!”  Nou sit dit heeltyd in my kop vas…

Maar toe herinner die liedjie my weer aan die storie van die bekende prediker, Charles Spurgeon en die weerhaan.  So word vertel dat hy by ‘n vriend op die plaas gekuier het en gesien het dat die vriend ‘n weerhaan op die skuur se dak het. En op die weerhaan is die woorde: “God is liefde”.  Sonder om te skroom vra Spurgeon toe of sy vriend dan bedoel dat die liefde van God so wispelturig soos die wind is?

Spurgeon se vraag is ook soms ons vraag, veral in moeilike tye.  Dat ons soms, a.g.v. ons omstandighede, voel dat die Here se liefde en teenwoordigheid maar kom en gaan en dat ons dan vinnig hoop verloor.  Ons wéét God is liefde en is by ons, maar tog vind ons harte nie altyd rus en vrede in daardie feit nie.

So lees ons, was dit ook vir die Emmausgangers in Lukas 24:13-35.  Hulle het vroeër hoop gehad, maar nou hoop hulle nie meer nie en staar vas in die realiteit van Jesus se dood.  Ons lees in vers 21:

Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het.

Hulle praat met Hom, praat oor Hom en vertel van Hom, maar hulle teleurstelling oorheers hulle hoop.  Hulle sê dan ook self van die tekens van ‘n ander realiteit, maar hulle kan dit nog nie sien nie – vers 22-24:

En nou het ‘n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ‘n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

Die Opgestane Here Jesus wandel dan verder saam met hulle.  Hy lei hulle geduldig om met geloof te sien wat hulle nie vroeër kon sien nie. Hulle moet die feit dat Hy “moes ly” verstaan en raaksien.  En dan openbaar Hy Homself aan hulle, eers deur die Woord vir hulle uit te lê en dan wanneer Hy aan tafel saam met hulle sit.  Wanneer Hy die brood breek gaan hulle oë oop en herken hulle Hom.  Dan gaan hulle terug Jerusalem toe om te vertel wat hulle gesien het en word hulle hoop verder versterk deur die medegelowiges wat weer vir hulle vertel van hulle eie belewenisse: Die Here het regtig opgestaan!

Daar is hoop, want Jesus leef!  Egte hoop sien nie net God se nabyheid in die voor die hand liggende nie, maar reken met die aanwesigheid van God deur alles.  Geloof reken met die lewende Christus en lewe daarvolgens.

Spurgeon se vriend het hom toe geantwoord oor die weerhaan op die skuur se dak: “Nee glad nie, dit beteken dat maak nie saak watter kant toe die wind waai nie, God is Liefde!”

Ons hoef nie, wanneer dit voel of die wind van ons omstandighede en die storms van die lewe ons verwaai, te twyfel nie: God is liefde. Hy het opgestaan, Hy het reeds die oorwinning behaal – daar is by Hom rus en vrede en hoop!

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. – Efesiërs 1:18-21

Afgesonder Dag 16 – Dit is Volbring

Ons almal ken die uitdrukking “Famous last words”. Gewoonlik gebuik ons dit wanneer ons bedoel dat iemand nog daardie woorde gaan sluk.  Soos die ou met die handgrenaat wat sê: “Haai kyk, die pennetjie kan uittrek!” Of die ou wat vir sy vrou sê: “Ja my liefie, daai een laat jou bietjie vet lyk…” 😉

‘n Ander moontlikheid is dat dit verwys na die laaste woorde van ‘n bekende persoon of selfs die laaste woorde van iemand wat dan later op ‘n manier waar geword het wat baie mense geraak het.

Dit kan dus woorde wees wat bekend geword het omdat dit op een of ander manier verkeerd bewys is.  Soos die baas van die Decca Platemaatskappy wat nie die Beatles se musiek wou opneem nie wat gesê het:

“We don’t like their sound, and guitar music is on the way out …”

Of dit is die laaste woorde van iemand wat bekend was.  Of dit is laaste woorde wat bekend geword het omdat dit vir so baie mense iets beteken het. Soos bv. Leonardo da Vinci, na bewering, op sy sterfbed gesê het:

“I have offended God and mankind because my work did not reach the quality it should have.”

Die ander ding van laaste woorde is juis dat mens se laaste woorde gewoonlik as baie belangrik gesien word.  Asof dit jou hele lewe tot op daai punt moet definieer en asof dit die een ding is wat mense van jou sal onthou, al onthou hulle niks anders nie en almal van ons hoop dat ons darem iets betekenisvol sal kan sê met ons dood.

So kan ons ook kyk na Jesus se laaste woorde. Sy laaste woorde aan die kruis voor Hy sy laaste asem uitgeblaas het word op drie verskillende maniere in die Bybel vertel.  Matteus en Markus se weergawes lyk dieselfde, terwyl, Lukas en Johannes elkeen hul eie weergawe van Jesus se laaste oomblikke aan die kruis gee.

My God, my God, waarom het U My verlaat?” – Markus 15:34 (vgl. Ps 22:2)

Markus wil vir sy lesers vertel dat Jesus die Seun van God is.  Daarom is die woorde van Jesus aan die kruis so belangrik.  Hy hang daar as Seun van God, maar word deur God verlaat.  Daardeur dra Hy ons straf op Homself.  Dit beteken egter ook dat dit God self is wat ons red.  Hy moes ly om God se heilsplan uit te voer.

“Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” – Lukas 23:46 (vgl. Ps. 31:6)

Dit is die klem wat Lukas wil laat val.  Vir Hom gaan dit juis oor God se voorafbepaalde plan wat vervul word.  Jesus het gekom om alle mense te red.  Dit is God se plan.  Jesus is getrou tot in die dood.

“Dit is volbring!” – Johannes 19:30

In Johannes sien ons weer dat Jesus uitroep en dan sterf.  Hy sê daarmee dat Jesus nie net sterf nie, maar tot op hierdie oomblik nogsteeds mag het oor die dood.  Dat Hy sy lewe uit eie wil aflê.  Dit is God self wat ons red!  Hy is die een wat ons verlossing bewerk!  Dit is Hy wat ons uit genade red.

Hy roep triomfantlik uit dat Hy al die opdragte van God uitgevoer het.  Die Heilswerk van God is voltooi.  Die verlossing is behaal sodat ons kan glo en die ewige lewe kan hê.  Die griekse woord hier vir volbring is ‘Tetelestai’ – die werk is nie net afgehandel nie, dit sal altyd afgehandel bly!

Hierin is klaar vir ons soveel troos!  Maar die wonderlike is dat dit nie die einde van die storie is nie – Jesus het nie net gesterf nie, Sondag is nog oppad – Hy het ook opgestaan…