Afgesonder Dag 18 – ‘n Hoenner wat ‘n eier nie kan lê

Al hierdie videos op Facebook van die mense met hulle rou eiers het my êrens herinner aan die liedjie “Daar’s ‘n hoender wat ‘n eier nie kan lê, dit is die haan wat op die kerktoring staan!”  Nou sit dit heeltyd in my kop vas…

Maar toe herinner die liedjie my weer aan die storie van die bekende prediker, Charles Spurgeon en die weerhaan.  So word vertel dat hy by ‘n vriend op die plaas gekuier het en gesien het dat die vriend ‘n weerhaan op die skuur se dak het. En op die weerhaan is die woorde: “God is liefde”.  Sonder om te skroom vra Spurgeon toe of sy vriend dan bedoel dat die liefde van God so wispelturig soos die wind is?

Spurgeon se vraag is ook soms ons vraag, veral in moeilike tye.  Dat ons soms, a.g.v. ons omstandighede, voel dat die Here se liefde en teenwoordigheid maar kom en gaan en dat ons dan vinnig hoop verloor.  Ons wéét God is liefde en is by ons, maar tog vind ons harte nie altyd rus en vrede in daardie feit nie.

So lees ons, was dit ook vir die Emmausgangers in Lukas 24:13-35.  Hulle het vroeër hoop gehad, maar nou hoop hulle nie meer nie en staar vas in die realiteit van Jesus se dood.  Ons lees in vers 21:

Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het.

Hulle praat met Hom, praat oor Hom en vertel van Hom, maar hulle teleurstelling oorheers hulle hoop.  Hulle sê dan ook self van die tekens van ‘n ander realiteit, maar hulle kan dit nog nie sien nie – vers 22-24:

En nou het ‘n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ‘n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

Die Opgestane Here Jesus wandel dan verder saam met hulle.  Hy lei hulle geduldig om met geloof te sien wat hulle nie vroeër kon sien nie. Hulle moet die feit dat Hy “moes ly” verstaan en raaksien.  En dan openbaar Hy Homself aan hulle, eers deur die Woord vir hulle uit te lê en dan wanneer Hy aan tafel saam met hulle sit.  Wanneer Hy die brood breek gaan hulle oë oop en herken hulle Hom.  Dan gaan hulle terug Jerusalem toe om te vertel wat hulle gesien het en word hulle hoop verder versterk deur die medegelowiges wat weer vir hulle vertel van hulle eie belewenisse: Die Here het regtig opgestaan!

Daar is hoop, want Jesus leef!  Egte hoop sien nie net God se nabyheid in die voor die hand liggende nie, maar reken met die aanwesigheid van God deur alles.  Geloof reken met die lewende Christus en lewe daarvolgens.

Spurgeon se vriend het hom toe geantwoord oor die weerhaan op die skuur se dak: “Nee glad nie, dit beteken dat maak nie saak watter kant toe die wind waai nie, God is Liefde!”

Ons hoef nie, wanneer dit voel of die wind van ons omstandighede en die storms van die lewe ons verwaai, te twyfel nie: God is liefde. Hy het opgestaan, Hy het reeds die oorwinning behaal – daar is by Hom rus en vrede en hoop!

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. – Efesiërs 1:18-21