Afgesonder Dag 19 – Al wat ek wens

Paulus skryf in Filippense 3:7-11 oor sy hartsbegeerte:

Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Dit is opvallend hoe hy speel met die tye van die werkwoorde wat hy gebruik – die spel tussen dit wat WAS en dit wat NOU is.  Dit wat ‘n bate was is nou waardeloos. Hy HET alles prysgegee om NOU Christus as enigste bate te kry.  God gee nou vryspraak.  Hy wil NOU Christus ken, die krag van sy opstanding ondervind. Die oue is verby en die nuwe het gekom!

Paulus skryf hierdie woorde omtrent 20-30 jaar ná Christus se hemelvaart. Jesus lankal nie meer daar nie!  Of so sou dit uit die ongelowige se oogpunt lyk. Maar vir Paulus is Jesus die een allesoorheersende lewende werklikheid!  Die Een wat opgestaan het en wat NOU lewe en wat NOU sin gee aan die lewe.  Omdat Hy NOU teenwoordig is deur sy Heilige Gees wat in gelowiges woon.

Die tweede opvallende saak hier is dat hy sê dat al wat hy wens is om Christus te ken! Nie die leer van die opstanding, of die teologie van die opstanding nie, maar Jesus Christus self.  Die Christus wat opgestaan het en nou lewe! Ken jy die Christus? Nie soos in “ek sal Hom herken as ek in die straat by Hom verbyloop” nie – het jy ‘n persoonlike verhouding met Hom?

Daar is ‘n Duitse kortverhaal met die titel: “Der reichste Mann des Dorfes“, in Afrikaans vertaal: “Die rykste man in die dorp”. Dit gaan oor ‘n besondere ryk en selfgenoegsame man, verreweg die rykste man in die dorp.

Een oggend ry hy deur die woud wat naby die dorp was en skielik hoor hy ‘n geluid. Toe hy fyner luister, blyk dit dat dit ‘n ou en baie arm man van die dorpie was, besig met ‘n eenvoudige gebed. Hy was besig om vir God te dank vir ‘n stuk brood en ‘n beker water. Dit was vir die ryk man so vreemd, dat dit hom onrustig gestem het. Met al sy skatte het dit nooit by hom opgekom om God te dank nie. Nadat hy weggery het, wou die beeld van die ou man hom nie los nie.

Intussen het ‘n storm opgesteek, die lug verdonker en die woud verkoel. ‘n Neerdrukkende gevoel, soos van naderende onheil, het oor die ryk man gekom. Skielik was dit asof hy ‘n stem gehoor het wat vir hom sê: “Vannag gaan die rykste man in die dorp sterf.” Verskrik en ontsteld het hy huis toe gejaag en die dokter ontbied. Dit was vir hom ‘n nag van doodsangs en ellende. Met die eerste strale van die oggendson in sy kamer, het hy weer kleur in sy gesig gekry en meer gerus begin voel. In die dorp hoor hy toe later die dag, dat die dood wel die nag toegeslaan het. Die ou man wat hy die vorige dag sien bid het, het die nag gesterf.

By sy terugkeer vanuit die dorp, het sy vrou hom laggend gespot en gesê dat die geheimsinnige stem slegs sy verbeelding was. Die nag was immers lank reeds verby en hy leef nog. “Sekerlik”, het hy vir haar gesê, “maar die stem was tog reg. Vannag het die rykste man in die dorp wel gesterwe.” “Hoe kan dit tog wees?” het sy vrou gevra. “Wie is hier wat ryker is as ons?” Daarop het hy haar geantwoord: “Dié man wat vir God kan sê: ‘Buiten U begeer ek niks in die hemel en op die aarde nie …’ Hy was die rykste man in ons dorp.”

Derdens, as ons bietjie verder lees, dan val Paulus se inspanning vir die Here ons op – vers 12-14:

Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Is daar by ons ook hierdie begeerte om ons in te span ter wille van Hom omdat Hy ter wille van ons, alles gegee? Nie op grond van nuwe soort wettisisme nie – maar omdat Hy my reeds syne gemaak het. Vanuit my nuwe posisie as verloste – wat met die krag van sy opstanding mag lewe.

Mag elkeen van ons ook die krag van die opstanding beleef en daaruit lewe en mag ons ook, soos Paulus, kan uitroep: “Al wat ek wens is om Christus te ken!”  Nie eendag lank van nou af nie, maar HIER en NOU, want Hy leef en Hy is by jou!