Afgesonder Dag 20 – Moenie bang wees nie!

Vrees. Natuurlik is vrees een van die verskeidenheid van die emosies wat so nou en dan sy grillerige kop uitsteek in hierdie tyd.  As ons gekonfronteer word met al die onsekerheid oor ons veiligheid, finansiële sekuriteit, die toekoms, die skool, die impak van die virus ens. ens. ens. Hoe kan dit dan nou anders?  Maar die Here se krag en teenwoordigheid kan daardie vrees omkeer en verander in vreesloosheid.  Dit maak dat ons nie meer gevangenes van ons vrees is nie, maar die dinge wat ons bang maak in die gesig kan staar.  Vry om nog voluit te lewe tot God se eer!

Die Here se woord kom na die volk toe waar hulle in ballingskap sit.  Praat van afsondering!  Hulle moes ekstreme “social distancing” toepas.  Hulle was gevangenes in ‘n vreemde land met ‘n vreemde kultuur en godsdiens en vreemde mense.  Ver van hulle huise en familie en van Jerusalem en die tempel af.  Dit het daarom ook vir hulle baie keer gevoel of hulle daarom ver van God af is.  Hulle Lockdown tyd was so bietjie langer as ons s’n… ongeveer 50 jaar langer!

Dit is binne in hierdie situasie dat die Here vir hulle sê om nie bang te wees nie. In Jesaja 43:1-5 lees ons:

Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.
As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,
deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte as losprys vir jou,
Kus en Seba in jou plek.
Omdat jy vir My kosbaar is,
omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.
Moenie bang wees nie,
Ek is by jou.

Sjoe!! Die Here sê nie net moenie bang wees, “want alles sal okay wees” nie.  Hy SELF is die rede waarom ons nie hoef bang te wees nie!

Moenie bang wees nie, want:

  • EK het jou gemaak
  • EK verlos jou
  • EK roep jou op jou naam – jy is myne!
  • EK is by jou
  • EK is die Here jou God
  • EK is jou Redder
  • EK veg vir jou
  • EK het jou lief

Die Here is groot.  So groot dat Hy die hemel en die aarde geskep het.  Maar ook so groot dat Hy ons elkeen se harte en al ons emosies ken.  Hy is so groot dat alles wat Hy hierbo oor Homself sê vandag nog vir ons ook waar is.  En Hy is so groot dat Hy nie net dit sê nie, maar dat Hy dit alles oor Homself bewys – Hy doen wat Hy sê deur vir ons aan die kruis te kom sterf.

Moenie bang wees nie, die HERE is by jou! Hy roep jou op jou naam, jy is Syne!