Afgesonder Dag 9 – U sorg vir my

Psalm 16 is een van my gunsteling Psalms en een van daardie Psalms waarvan die woorde kort-kort ‘n mens bekruip. Hoor hoe klink dit in die 1983 Vertaling (maar jy kan dit in jou gunsteling vertaling gaan lees):

1‘n Gedig van Dawid.
Neem my in beskerming, o God; ek soek skuiling by U.
2Ek het vir die Here gesê: “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.
3Die afgode in die land, so aantreklik vir baie – met hulle wil ek niks te doen hê nie.
4Mag elkeen wat ‘n ander god vereer, baie smart beleef. Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie, hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.”
5Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

Baie keer hardloop die jaar verby ons en vra ons vir die Here vir ‘n klomp goed langs die pad en sê ook maar net so langs die pad vir Hom dankie.  EN ons kan so vasgevang en besig raak en maklik vaskyk in alles wat van ons verwag word dat ons so baie van sy seëninge miskyk.  Nou is ons egter ingeperk en gedwing om anders te dink en op te let na wat om ons aan die gang is.  Ons kan egter kies hoe ons wil reageer en waar ons fokus gaan lê. Ons kan so maklik vasgevang raak en net dit raaksien waarvan ons nou ontneem word en dit wat ons wel het totaal en al miskyk.

Psalm 16 se digter besef dat hy totaal afhanklik van God is – alles wat hy het kom van God af en boonop sê hy ook dat wat hy ontvang het is vir hom mooi.

Maak hierdie week werklik tyd om, terwyl die brieke so bietjie brieke aangedraai is, net vir ‘n oomblik rondom jou te kyk en te onthou en raak te sien hoedat die Here hierdie jaar vir jou gesorg het. Dink mooi en kyk mooi dat jy niks mis nie.  Van groot dinge tot die kleinste dingetjie wat ons so maklik as vanselfsprekend aanvaar. Sê vir die Here dankie vir elkeen van hierdie dinge.

Die Psalmdigter gee homself heeltemal oor aan die Here en bely dat die Here die een is wat hom beskerm. Die Here sorg nie net vir hom deur vir hom te gee wat hy nodig het nie, maar hou hom ook veilig.  Baie keer hoor ons die mooi versies van die Psalms en dan wonder ons hoekom dit nie ook met ons so mooi en goed kan gaan nie, maar as ons mooi lees dan kom ons agter dat die Psalmdigters juis binne in die donkerste tye en in die grootste moeilikheid getuig van God se sorg en van sy liefde en hom daarvoor loof.  Waardeur het die Here jou gedra hierdie jaar?  Daar is soveel vrede daarin om te besef dat die Here by ons is ook in die moeilike tye eerder as wat jy dink dat jy alleen ly.

Om op die Here te vertrou beteken nie net om terug te kyk en na die tyd te besef dat die een stel voetspore is syne wat jou gedra het nie, maar ook om vorentoe te kyk en hom te vertrou vir dit wat oppad is.  Hoeveel keer kyk ons terug en besef ons die Here was by ons en het ons gedra en is ons bly en verlig daaroor, maar begin dan dadelik weer stres oor dit wat oppad is want “hoe gaan ons ooit daar deur kom”.  So baie van ons lewens word gesteel omdat ons vergeet dat die Here in alles vir ons sorg.

Die Psalmdigter praat van hoe die Here hom leer hoe om te lewe en hom tot die regte insig bring.  Partykeer leer ons iets nuuts oor God of het ons hierdie amazing ervaring wat ons tot nuwe insig bring of andersins lees ons net iewers iets raak wat ons help om beter te verstaan.  Dink vandag terug oor die jaar en dink aan daardie momente.  Weereens kan die draaie van die lewe vir ons weer so besig maak dat ons vir so rukkie hierdie nuwe insig onthou maar dan weer so maklik vergeet.  Die Here openbaar Homself aan ons op baie maniere, hoe het Hy dit in hierdie afgelope jaar vir jou gedoen?

Die Psalmdigter praat daarvan dat die Here altyd by hom is.  ‘n Feit wat ons so maklik vergeet, maar nou in hierdie tyd elke dag aan herinner word.  So ons moet ook so van Hom afhanklik wees en so naby aan Hom leef en so in totale oorgawe leef en so daarop gefokus wees dat die HELE WÊRELD sy liefde moet leer ken dat ons oral waar ons gaan sy Naam groot maak en getuies van Hom kan wees.

Onthou: Die Here is by jou!

Gebed: Vandag bid ons vir alle sake ondernemings en die werknemers van daardie besighede wat op die oomblik hulle deure moet sluit en nie seker is wat om te verwag en wat die impak gaan wees nie. Ook vir elke besigheid wat wel hulle deure moet oophou en daagliks blootgestel word aan die virus.

Afgesonder Dag 8 – Here, U sien dwarsdeur my

Terwyl mens nou so bietjie ingeperk is kom ek agter hoe vinnig ons gedagtes hul inperking probeer ontsnap en nou in allerande rigtings begin rondhardloop.  Ons probeer verstaan en planne maak en skets scenarios in ons koppe, en vra vrae en dink aan als wat kan verkeerd gaan en maak lysies en evalueer en doen voorraadopname van ‘n klomp dinge in ons lewens.

Toe kom hierdie versie êrens tussen al die ander gedagtes by my op:

Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,
hoe magtig hulle almal!
As ek hulle sou wou opnoem –
hulle is meer as wat daar sand is,
en as ek daarmee klaar is,
sou ek nog steeds met U te doen hê.

Voordat ek my kon kry toe spoel die hele res van Psalm 139 oor my en dit voel of dit my alles gelyk tref.  Dan bereik ek daai punt in vers 6:

Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.

Hoe wonderlik is dit nie dat die Here ons deur en deur ken nie!  Hier sit ons in afsondering, geïsoleer met al ons gedagtes en al die emosies wat in ons harte rondhardloop.  Dan kom herinner die Here ons dat Hy ken elke hoekie en draaitjie van ons harte.  Selfs daardie donkerste hoekies wat ons nou vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd waag om af te stof.  Hy sien dwarsdeur ons. Hy ken ons gedagtes nog voordat ons dit sê. Sjoe…

Nie net is Hy Alwetend nie, Hy is ook Alomteenwoordig.  Of ons sit, staan, ry, bly, braai of in afsondering is, Hy is HIER!  Dag, nag, hemel, aarde, oos of wes – Hy is oral! En waar jy ookal is hou sy Regterhand jou vas – dit is die sterktste, beste skuilpek wat daar is.

Hy is ook Almagtig en lees ons dat Hy ons aanmekaargeweef het. Hy is intens betrokke by alles.  En as ons vaskyk teen wat vir ons sigbaar en moontlik lyk kan ons weet dat ons in sy gedagtes is en dat Hy, daar waar ons nie kan sien nie, besig is met groter dinge as wat ons kan droom. Niks is vir Hom onmoontlik nie!

Wat ‘n wonderlike troos!  Die Here, die Almagtige, Alomteenwoordige, Alwetende het ons gemaak, ken ons deur en deur en hou ons vas.  Hy hou ons harte ons gedagtes ons twyfel en bekommernis, ons seer en al ons behoeftes in sy Hand. Altyd. Oral.

Die Here is by jou!

Gebed: Ons bid vandag spesifiek vir ons ouer mense en siek mense wat ‘n hoër risiko is en vol vrees leef vir die onsekerheid van die toekoms.

PS. Ons het ‘n paar versoeke gekry vir musiek so tydens afsondering en ons sorteer nog uit hoe dit sal werk met kopiereg lisensies en toerusting en al daai, maar hier is solank een van ons eie, ons eie poging om Ps 139 te kan sing. Dit is ‘n LIVE opname van Als behoort aan U:

Afgesonder Dag 7 – Die Beste Gebed

Ons spring vandag bietjie oor van die Ou na die Nuwe Testament en duik sommer aan die diepkant in – daar waar die Here vir ons leer hoe om te bid in Matteus 6:5-15.  Lees gerus die hele stuk deur.

Hier leer ons die pragtige woorde van die Onse Vader wat so na aan ons hart lê.  Baie van ons ken dit darem nog uit ons koppe uit en dit is altyd ‘n belewenis om dit te sing. En dit is nog oral te sien in ons huise in kunswerke en borduurwerke ens.  Nou in die laaste tyd sien ons die gebed weer oral op sosiale media soos wat mense hulle afhanklikheid van God verklaar en Hom smeek om hulp.

Ons moet egter versigtig wees dat die Onse Vader nie aan die eenkant so deel van ons “gebedsmeubels” geword het dat dit maar net ‘n klomp mooi woorde word wat ons, sonder om te dink, uit ons koppe kan opsê, sonder dat dit ons harte raak nie.  Aan die ander kant moet ons ook versigtig wees om nie die Onse Vader as ‘n soort towerspreuk te probeer aanwend omdat ons glo dat ons, as ons dit bid, ons die “regte” woorde gebruik om die regte reaksie by God te kry nie.

Die Here Jesus het nie vir sy dissipels ‘n rympie geleer nie, maar wou hulle leer HOE om te bid.  Natuurlik is dit goed om dit uit ons koppe te ken! Maar die Onse Vader leer vir ons waar ons prioriteite moet lê, wat die ingesteldheid van ons harte moet wees.

Aan die begin (vers 5-8) leer Hy dat ons nie soos die skynheiliges en ook nie soos die heidene moet wees wanneer ons met God praat nie.  Ons moet daarom onthou: ons praat eerstens met God, nie met mense nie. M.a.w. nie om mense te beïndruk met ons gebede nie, maar om met die Here te praat.

Tweedens praat ons met God waar dit stil is. Die Here Jesus sê ons moet daar in ons binnekamer gaan bid. Natuurlik weet ons dat ons enige plek en enige tyd kan en moet bid – gister het Nehemia ons mooi geleer hoe! – maar ons ander dagstukkies het ook vir ons gewys hoe belangrik dit is om tyd te maak om stil te word om met die Here te praat.

Derdens leer Hy ons dat ons wanneer ons bid ons met God uit ons harte moet praat.  Nie met ‘n stortvloed van woorde of met die sg. “regte” woorde nie, maar uit ons harte. Want die Here ken ons harte en Hy weet wat ons nodig het, nog voordat ons dit vra.  Daarom kan ons maar ons harte oopmaak voor Hom en hoef ons nie weg te kruip agter ‘n klomp hoë woorde nie.

Die Onse Vader is die beste gebed, nie omdat ‘n towerspreuk is nie, maar omdat dit ons help om ons fokus op God te draai. Dat ons daarmee kan bely dat Hy nie net die Beste is nie, maar dat Hy die beste weet vir ons lewens.

As ons mooi na die gebed kyk dan moet ons nie miskyk dat die Here sê dat ons Hom kan aanspreek as ‘Vader’ nie.  Dit is GROOT! Dat die God van die heelal, die Koning van die konings ons toelaat en uitnooi om Hom Vader te noem is die grootste voorreg.

Dan sien ons verder dat die Onse Vader gaan oor:  om Hom eerstens te loof vir Wie Hy is en dan oor God se wêreld, God se Wil, God se sorg, God se genade, God se Leiding.

As ons die Onse Vader dan so verstaan, kan ons die “Beste” gebed bid – nie omdat dit die beste of die regste of die enigste rympie is nie, maar omdat ons wil sê Wie die Beste is en ons harte in alle omstandighede op Hom wil rig!  En dalk help die struktuur ons om so bietjie beter te verstaan wat dit is wat ons sê. Dit gaan oor totale oorgawe aan Hom!

Die “Beste” gebed klink dan so:

Ons hemelse Pappa…

    • U IS die Beste – laat almal dit weet!
    • U WEET die beste – kom verander ons wêreld en doen met my wat U weet die beste vir my is!
    • U SORG die beste – gee asseblief vir my en vir ALMAL dit wat ons nodig het.
    • U GEE U Beste – U eie Seun, Jesus! Maak my hart skoon en help my om ander te vergewe
    • U KEN DIE PAD die beste – Lei my weg van slegte goed af, beskerm my en help my om altyd te doen wat U vra.

AMEN

Ons kan dit nog verder vereenvoudig (en kan ons die spasies invul met wat in ons eie harte aan die gang is) en dalk gee dit ons ook ‘n nuwe manier om ons kinders te leer bid.  Ons kan dit ook met volle oorgawe en met ons hele hart in hierdie uitdagende tyd bid:

Ons hemelse Pappa…

    • U IS die Beste
    • U WEET die beste
    • U SORG die beste
    • U GEE U Beste
    • U KEN DIE PAD die beste

AMEN

Afgesonder Dag 6 – ‘n Skietgebed opgestuur

Vandag se teks is een van my gunstelinge wat ek graag weer en weer lees en oor en oor na verwys.  Dit is Nehemia 2.  Ná die gebeure in Daniël wat ons gister van gelees het, wanneer Kores, die groot koning van die Perse, die wêreld (en vir Babel!) oorneem lees ons van Nehemia.

Ons tref vir Nehemia aan waar hy teen die einde van die Babiloniese ballingskap by die koning moes gaan toestemming vra of hy kon terugkeer na Juda om Jerusalem en die tempel te herbou.

Die persoonlike manier waarop Nehemia geskryf is is werklik iets besonders.  Meer as dit nog, die diepte en persoonlike karakter van Nehemia se verhouding met die Here is aangrypend.  Hoor wat gebeur in Nehemia 2 vanaf vers 1:

    1 Dit was in die maand Nisan, die twintigste jaar van koning Artasasta. Die wyn was voor hom, en ek moes dit optel en aan hom gee. Ek was nooit bedruk voor hom nie, 2 maar dié dag sê die koning vir my: “Hoekom lyk jy so bedruk? Is jy dalk siek? Nie? Hartseer dan?”

    Ek was baie bang, 3 maar ek het vir die koning gesê: “Mag die koning baie lank lewe! Hoe sal ek dan nie bedruk lyk as die stad waar my voorvaders begrawe is, in puin lê en sy poorte verbrand is nie?”

    4 Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?”

    Ek het ‘n skietgebed opgestuur na die God van die hemel 5 en toe vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.”

Mens word sommer dadelik ingetrek by die verhaal, by die emosie en die gebeure daarvan.  Gewoonlik is ons bietjie negatief ingestel oor skietgebedjies, dalk omdat ons bang is dat dit die enigste vorm van kommunikasie tussen ons en God word en dat dit dalk nie goed genoeg is nie.  As mens die res van Nehemia lees dan sien ons juis dat Nehemia op baie ander plekke in diep gesprekke met die Here besig is en dat hierdie pragtige moment waar hy die skietgebed opstuur na die Here toe juis deel is van die VERHOUDING waarin Hy met die Here lewe.

Daar is by Nehemia geen twyfel oor waar Hy met die Here staan nie en dat die Here ook sy God is en dat hy ten volle afhanklik van die Here kan lewe.  Hoor hoe praat hy, soos op baie ander plekke, aan die einde van vers 8: “My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan.”

Hoe naby leef jy aan die Here? Hoe lyk jou verhouding met Hom? Hoe werk dit op ‘n daaglikse basis?  Nehemia se skietgebed inspireer my om meer tyd in gebed te spandeer, om regtig nader aan die Here te wil lewe, in ‘n dieper afhanklikheid van Hom, en ‘n dieper verhouding met Hom!

Gebed: Vandag bid ons vir die mense wat nie ‘n dak oor hulle koppe het nie en wat totaal en al afhanklik is van hulp programme vir wie hierdie tyd van inperking en die bedreiging van die virus ‘n groot krisis is.