Ons spring vandag bietjie oor van die Ou na die Nuwe Testament en duik sommer aan die diepkant in – daar waar die Here vir ons leer hoe om te bid in Matteus 6:5-15. Lees gerus die hele stuk deur.
Hier leer ons die pragtige woorde van die Onse Vader wat so na aan ons hart lê. Baie van ons ken dit darem nog uit ons koppe uit en dit is altyd ‘n belewenis om dit te sing. En dit is nog oral te sien in ons huise in kunswerke en borduurwerke ens. Nou in die laaste tyd sien ons die gebed weer oral op sosiale media soos wat mense hulle afhanklikheid van God verklaar en Hom smeek om hulp.
Ons moet egter versigtig wees dat die Onse Vader nie aan die eenkant so deel van ons “gebedsmeubels” geword het dat dit maar net ‘n klomp mooi woorde word wat ons, sonder om te dink, uit ons koppe kan opsê, sonder dat dit ons harte raak nie. Aan die ander kant moet ons ook versigtig wees om nie die Onse Vader as ‘n soort towerspreuk te probeer aanwend omdat ons glo dat ons, as ons dit bid, ons die “regte” woorde gebruik om die regte reaksie by God te kry nie.
Die Here Jesus het nie vir sy dissipels ‘n rympie geleer nie, maar wou hulle leer HOE om te bid. Natuurlik is dit goed om dit uit ons koppe te ken! Maar die Onse Vader leer vir ons waar ons prioriteite moet lê, wat die ingesteldheid van ons harte moet wees.
Aan die begin (vers 5-8) leer Hy dat ons nie soos die skynheiliges en ook nie soos die heidene moet wees wanneer ons met God praat nie. Ons moet daarom onthou: ons praat eerstens met God, nie met mense nie. M.a.w. nie om mense te beïndruk met ons gebede nie, maar om met die Here te praat.
Tweedens praat ons met God waar dit stil is. Die Here Jesus sê ons moet daar in ons binnekamer gaan bid. Natuurlik weet ons dat ons enige plek en enige tyd kan en moet bid – gister het Nehemia ons mooi geleer hoe! – maar ons ander dagstukkies het ook vir ons gewys hoe belangrik dit is om tyd te maak om stil te word om met die Here te praat.
Derdens leer Hy ons dat ons wanneer ons bid ons met God uit ons harte moet praat. Nie met ‘n stortvloed van woorde of met die sg. “regte” woorde nie, maar uit ons harte. Want die Here ken ons harte en Hy weet wat ons nodig het, nog voordat ons dit vra. Daarom kan ons maar ons harte oopmaak voor Hom en hoef ons nie weg te kruip agter ‘n klomp hoë woorde nie.
Die Onse Vader is die beste gebed, nie omdat ‘n towerspreuk is nie, maar omdat dit ons help om ons fokus op God te draai. Dat ons daarmee kan bely dat Hy nie net die Beste is nie, maar dat Hy die beste weet vir ons lewens.
As ons mooi na die gebed kyk dan moet ons nie miskyk dat die Here sê dat ons Hom kan aanspreek as ‘Vader’ nie. Dit is GROOT! Dat die God van die heelal, die Koning van die konings ons toelaat en uitnooi om Hom Vader te noem is die grootste voorreg.
Dan sien ons verder dat die Onse Vader gaan oor: om Hom eerstens te loof vir Wie Hy is en dan oor God se wêreld, God se Wil, God se sorg, God se genade, God se Leiding.
As ons die Onse Vader dan so verstaan, kan ons die “Beste” gebed bid – nie omdat dit die beste of die regste of die enigste rympie is nie, maar omdat ons wil sê Wie die Beste is en ons harte in alle omstandighede op Hom wil rig! En dalk help die struktuur ons om so bietjie beter te verstaan wat dit is wat ons sê. Dit gaan oor totale oorgawe aan Hom!
Die “Beste” gebed klink dan so:
Ons hemelse Pappa…
-
- U IS die Beste – laat almal dit weet!
- U WEET die beste – kom verander ons wêreld en doen met my wat U weet die beste vir my is!
- U SORG die beste – gee asseblief vir my en vir ALMAL dit wat ons nodig het.
- U GEE U Beste – U eie Seun, Jesus! Maak my hart skoon en help my om ander te vergewe
- U KEN DIE PAD die beste – Lei my weg van slegte goed af, beskerm my en help my om altyd te doen wat U vra.
AMEN
Ons kan dit nog verder vereenvoudig (en kan ons die spasies invul met wat in ons eie harte aan die gang is) en dalk gee dit ons ook ‘n nuwe manier om ons kinders te leer bid. Ons kan dit ook met volle oorgawe en met ons hele hart in hierdie uitdagende tyd bid:
Ons hemelse Pappa…
-
- U IS die Beste
- U WEET die beste
- U SORG die beste
- U GEE U Beste
- U KEN DIE PAD die beste
AMEN