Ons het vroeër in die week Psalm 97 gelees en nou kan mens tog nie langer uithou om dan Psalm 98 ook te wil lees nie. ‘n Oproep om ‘n nuwe lied te sing – die oues is nie groot genoeg om die Here se oorwinning te besing nie. Onthou die psalmdigters gaan met hulle rug gedraai na die toekoms en hulle gesigte na die verlede die toekoms in. Hulle onthou die groot dade van die Here en weet omdat Hy is Wie Hy sê Hy is en doen wat Hy sê Hy doen sal Hy dit weer doen, is die oorwinning seker.
Kyk terug oor jou eie lewe vandag en dink aan alles wat die Here vir jou doen en loof Hom daarvoor. Dan kan ons ons stemme ook voeg by die riviere en die berge en die see en alles wat lewe en al die instrumente en ‘n nuwe lied tot eer van God sing!
‘n Psalm.
Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here,
want Hy het magtige dade gedoen,
deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin.
Die Here het sy oorwinning bekend gemaak,
aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar.
Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig;
die hele wêreld het gesien dat ons God die oorwinning behaal het.
Juig tot eer van die Here, almal op aarde,
wees vrolik, juig en sing!
Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier,
speel op die lier en sing.
Blaas die trompet en die ramshoring,
jubel tot eer van die Here, die Koning.
Die see en alles daarin moet druis,
die aarde en alles daarop moet juig,
die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig
voor die Here,
want Hy kom om oor die aarde te heers;
Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.