Uitgestel Dag 8 – Maar hou moed…

Toe ek op hoërskool was het ek ‘n boek gelees wat gehandel het oor martelare – mense wat ernstig moes ly of sterf vir hulle geloof in Jesus.  Dit is ‘n versameling van stories wat strek van Stefanus wat gestenig is (Handl. 7) tot soortgelyke stories van mense in die laat 90’s, wanneer die boek verskyn het.  Dit is stories van volharding en dapperheid en hoop.  Maar ook van die Here se sorg en getrouheid en groot krag.

Die boek is vol aanhalings uit die Bybel, maar ook van mense in die meer onlangse geskiedenis.  Regte mense wat regte lyding beleef het en regtig in die moeilikste omstandighede aangehou het om aan die Here vas te hou.  En soos wat die gebruik mos maar is wanneer iemand se woorde in ‘n boek aangehaal word, word die persoon se naam, en soms ook die betrokke plek en datum, by die aanhaling aangedui.

So is daar byvoorbeeld so ‘n aanhaling met ‘n naam en ‘n jaartal by:

“He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose.” – Jim Elliot. Ecuador, 1956

So blaai ek deur die boek en lees al hierdie aangrypende stories van mense wat werklik besef het dat daar ‘n groter Werklikheid is as die skrikwekkende werklikheid wat hulle in die gesig staar.  Besef het waar hulle Hoop lê.  Besef het dat wat hulle nie kan verloor nie is die liefde en die ewige lewe wat daar is in Christus Jesus ons Here.  Dieselfde Jim Elliot het as sendeling ‘n martelaarsdood gesterf.

Maar toe blaai ek mos nog bietjie verder en sien ek die volgende aanhaling, ook met ‘n naam en ‘n jaartal by:

“These things I have spoken to you, that in Me you may have peace. In the world you have tribulation, but take courage; I have overcome the world.” – Jesus. 33 AD

Vir een of ander rede tref dit my hoërskool brein toe kliphard en slaan amper my wind uit. Gewoonlik sit ons mos by aanhalings uit die Bybel net die teksvers by as aanduiding van waar dit staan.  Hier staan dit.  Jesus, die Koning van die konings, die Here van die heelal, het werklik, rêrig hier tussen ons kom loop, in ons geskiedenis kom inklim en met sy eie mond hierdie woorde kom sê! Hy is nie net ‘n idee op papier nie, Hy is die alsoorheersende Werklikheid en Hy sê dat ons kan moed hou want Hy het klaar die wêreld oorwin.

“Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” – Jesus (Johannes 16:33)