Vlak 4 Dag 13 – Golwe

Meeste van ons moes al eenkeer in ons lewe die lessie leer om nie met die see se golwe te mors nie.  Net as jy dink jy swem nou lekker en begin nou hierdie ding onder beheer kry dan kom die see en herinner jou wie is eintlik baas.  Dit is dan wat jy ná ‘n klompie kere wat jy probeer uitwerk het watter kant nou eintlik bo is, met ‘n rooi gesig, uitasem, die sand uit jou oë, ore en oral anders probeer uitgrou.  Vir die volgende rukkie swem jy dan weer bietjie versigtiger…

Nou voel hierdie tyd ook soms so: en die golwe lyk of hulle net al groter en groter word en die water al souter en kouer.  Ons lees in Psalm 93 waar die psalmdigter ook so iets beleef en hy tussen die golwe na die Here roep om hulp.  Vers 3, in die Ou Vertaling, klink so:

Die riviere, o HERE, het verhef,
die riviere het hulle gebruis verhef;
die riviere verhef hulle geraas!

Die golwe bou op en rol oor hom en hou aan en aan soos die stroom van die rivier aanhou vloei en nog groter branders maak.  Maar dan lees ons in vers 4 die volgende woorde:

Meer as die gebruis van groot, geweldige waters,
van die golwe van die see,
is die Here geweldig in die hoogte!

As ons maar kon weet hoe geweldig die Here is! Hy wat groter is as die golwe wat om ons woed en selfs die waters in die holte van sy Hand afgemeet het (Jes 40:12). Groot is die Here, magtig en geweldig. Aan sy liefde is daar geen einde nie.