Die woorde van Psalm 63 het my vandag sommer in een van daai stoeigrepe vasgegryp – een van daai waaruit mens nie kan kom sonder om oor te gee nie. Vers 4 sê: “U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys.” Die Ou Vertaling klink so: “Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.”
Dawid skryf dit ná sy verblyf in die woestyn, sê vers 1 vir ons. Mens hoor die desperaatheid, die oorgawe, die totale afhanklikheid. Daar is slegs een bron van hoop, en dit is die Here self. Mag dit ook ons belydenis en gebed wees en mag jy ook by Hom rus en vrede vind en aanhou om Hom te loof en prys.
Ek soek U, o God, my God,ek dors na U;
ek smag na U
soos in ‘n dor en droë land,
‘n land sonder water.
Ek wil by U in die heiligdom wees
om daar u mag en grootheid te ondervind.
U troue liefde is meer werd as die lewe;
daarom sal ek U prys.
Ek sal U my lewe lank loof,
my hande ophef om u Naam te prys.
Soos elke keer wanneer ek u goeie gawes geniet,
sal ek U altyd roem met jubelende mond.
As ek aan U dink op my bed,
oor U peins in die nag, dan weet ek:
U is vir my ‘n hulp,
en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels.
Ek bly altyd naby U,
u hand ondersteun my.