Een van die herinneringe wat my bybly van toe ons nog in die Kaap gebly het is toe ons besoek afgelê het by die Hugenote Museum in Franschhoek. Die geboue en die tuine en die hele geskiedenis wat agter dit lê is aangrypend.
Op een deel van die gebou is die latynse leuse van die reformasie aangebring: “Post Tenebras Lux“. Dit beteken: “Ná Duisternis, Lig”. ‘n Kreet van hoop in ‘n donker tyd. Op daardie stadium, toe ek daar gestaan het en foto’s neem, kon ek nie anders as om aan die woorde van die lied van Attalus, ook met die titel “Post Tenebras Lux”, te dink nie:
“When faith starts breaking at the seams, let us not forget
The end will justify the means, and we are not there yet
So keep on walking through the night; after darkness comes the morning light”
Ons kan dit ook vandag sê omdat ons die Lig vir die wêreld ken! Die Een wat gekom het om lig te bring in die duisternis. Onthou wat Jesaja 9:1 vir ons sê:
“Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.”
Maar ons weet ook dat die duisternis nie die oorhand kan kry nie, omdat ons Here ook die mag het oor die dood en oor elke ander vorm van duisternis. Johannes 1 bevestig dit in vers 4 en 5:
“In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”