Vlak 4 Dag 12 – Stof

Gister se dagstukkie se woestynbeeld het my toe aan Psalm 103 laat dink.  Vers 14-16 se woorde:

Hy weet waarvan ons gemaak is,
Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.
Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras,
soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan:
as die woestynwind daaroor waai, is dit weg
en sy plek vir altyd leeg.

As mens so na al die statistieke van die pandemie kyk en die wêreldkaart beskou en sien hoeveel duisende mense daar al in plekke soos Italië, Spanje en die VSA oorlede is dan word die prentjie van hierdie verse ‘n vreesaanjaende werklikheid. Die kortstondigheid van ons bestaan.

Gelukkig vir ons is daar ook in hierdie Psalm ‘n “maar”.  Dit is die maar van die Evangelie, die Blye Boodskap.  Daar is hoop en vreugde en vrede by die Here, ten spyte van al die vrese van die lewe en die dun draadjie waaraan dit hang. Vers 17-19 sê:

Maar onverganklik is die liefde van die Here
vir dié wat Hom dien,
sy trou vir opeenvolgende geslagte,
vir dié wat getrou bly aan sy verbond
en sy voorskrifte nakom.
Die Here het sy troon in die hemel gevestig,
sy heerskappy strek oor alles en almal.

Sy liefde is onverganklik en sy heerskappy staan vas! En hoe kan ons dan anders as om ook ons stemme te wil voeg by die hele skepping en die Here te wil loof!  Vers 20-22:

Loof die Here, magtige engele
wat sy opdragte uitvoer,
sy bevele gehoorsaam.
Loof die Here, alle hemelwesens
wat Hom dien en sy wil doen!
Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here
op al die plekke waar Hy heers!
Ek wil die Here loof!