Gedagte vir die dag – Proe
Om te kan proe is eintlik so groot voorreg, is dit nie? Iemand kan iets wat hulle geëet het vir jou so goed beskryf as wat hulle kan en jy kan jouself indink en verbeel, maar om dit self te kan proe is eintlik die enigste manier om regtig te kan weet. As mens dink aan die fisiologie van hoe ons liggame gebou is en hoe dit werk dat ons kan proe wat ons proe, dan staan mens eintlik net weer verbaas en verslae dat die Here so iets ongeloofliks aanmekaar gesit het en dit vir ons gegee het om te geniet. Eintlik is al ons sintuie elkeen afsonderlik ‘n wonderwerk.
Dit maak die feit dat die Here vir ons die Nagmaal gegee het om sy liefde te kan vier en te onthou net soveel groter. Dat ons die tekens van brood en wyn kan sien en ruik en kan proe, maak dat ons kan deel in ‘n sensoriese belewenis wat ons geloof versterk en ons deel maak van die werklikheid van sy kruisiging. Dit maak dit erg persoonlik.
Psalm 34:9 sê:
Maar “kom ondervind” klink so amper onpersoonlik. Die nuwe Direkte Vertaling sê “Beproef dit en ervaar” wat dalk so bietjie nader aan die bedoeling kom. Maar wat letterlik daar staan is: “Kom proe en sien dat die Here goed is.” Dit is ondervind en beproef en ervaar, maar dit is meer as dit. As ons optel, bereken, oorweeg, vergelyk, toets, ontleed, bestudeer, analiseer, ondersoek gaan ons nie anders kan nie, as om te sien dat die Here goed is!
Mag ons elkeen die goedheid van die Here vandag persoonlik proe, maar mag ons ook só sout vir die wêreld wees dat die mense met wie ons paaie kruis ook, deur ons, kan proe dat die Here goed is!
Gedagte vir die dag – Wysheid
In ‘n tyd waar alles so deurmekaar voel het ons baie wysheid nodig. Die toekoms is onseker. Ons weet nie hoe lank 2020 nog gaan wees nie. Die hede is deurmekaar – die regulasies waarbinne mens moet bly is so omslagtig en van hulle maak vir ons maar min sin. Boonop voel dit ook nie of mens kan bybly met alles nie. Die regulasies verander vinniger as wat jy kanale op DSTV verander opsoek na iets wat die moeite werd is om te kyk. Mens kry behoorlik daai “verkleurmannetjie op ‘n Smartieboksie”-gevoel…
Ons kan maar net bid en vra vir wysheid. Dat ons nou met wysheid kan optree en die regte besluite kan neem en die regte dinge nou kan doen wat die beste is vir ons kinders, vir ons land, vir ons mense – sodat ons werklik sterker aan die anderkant kan uitkom. So moet ons ook bid vir wysheid vir ons regering, en vir mense in leiersposisies in elke sektor van ons samelewing.
Maar waar begin mens? Waar gaan soek ons vir wysheid? In die Bybel is wysheid baie meer as net dit wat ons gewoonlik daarmee assosieer. Ons dink gewoonlik dadelik aan ‘n groot uil of aan iemand met grys hare as dit kom by wysheid. Maar Bybelse wysheid is baie meer as dit. Meer as kennis en ervaring en deurleefde insig. Die groot omvang van die wysheidsliteratuur (Job, Psalms, Spreuke, Prediker, Hooglied) in die Bybel is die bewys daarvan.
Maar Psalm 111:10 stel dit eintlik vir ons baie eenvoudig:
Dien die Here! Dit is die begin van wysheid! As dit nog bietjie onduidelik is wat dit beteken, dan help Miga 6:8-9 ons:
Mag dáárdie soort wysheid sigbaar word in ons lewens, elke dag.
Gedagte vir die dag – Sodat die wêreld kan weet
Ons het Sondag na 1 Konings 8:60 verwys en na die dinge wat die Here doen sodat die wêreld kan weet dat Hy die enigste God en Here is:
“Dan sal al die volke van die wêreld besef die Here is God; daar is nie ‘n ander nie”
Daar is baie sulke voorbeelde in die wonderlike verhale in die Ou Testament. Een daarvan is waar die Here die volk, ‘n tweede maal, droogvoets deur water laat trek. In Josua 3 en 4 gaan die volk die beloofde land binne wanneer hulle die Jordaanrivier oorkruis.
Ons lees in Josua 3:15-16 hierdie mooi beskrywing van hoe vol die rivier was en hoe die Here dit op een hoop laat staan het:
“Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny.”
Die hele volk het deur die rivier getrek totdat die Here weer die rivier laat vloei en die water weer oor die walle gespoel het. Josua gee dan die opdrag dat daar ‘n soort klipmonument gebou moet word sodat generasies daarna nog kon onthou wat die Here daar gedoen het. As die kinders hulle pa’s vra wat die klippe dan beteken, moet hulle vir die kinders vertel van hierdie magtige daad van God en waarom Hy dit gedoen het. Josua 4:24 vertel vir ons waarom:
“Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.“
Dit sluit aan by ons gesprek oor Daniël 3 van gister. Wat doen ons en waarvan vertel ons in ons eie lewens “sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is”?
Hy is die enigste Here! Die Lewende God! Hy is almagtig! Vertel dit altyd, oral.
Gedagte vir die dag – Saalsak, Meelsak en Appeltjie-eenoog
Gister het ons bietjie oor die koue gesels en vandag maak ons bietjie vuur om warm te word. Een van my gunsteling Kinderbybel stories was altyd van Sadrag, Mesag en Abednego wat in die oond gegooi is en nie gebrand het nie. My verbeelding het altyd nog vir ure lank besig gebly soos wat ek die hele prentjie, soos ‘n fliek, vir myself in my gedagtes geteken het – van hoe dit rêrig moes gewees het, moes gelyk het. Lees gerus die hele Daniël 3 en leef jouself in die gebeure in.
Eers het ek probeer om vir myself in te dink hoe die groot goue beeld van Nebukadnesar moes gelyk het: 30 meter hoog en 3 meter breed. Dan sien ons die hele spektakel en hoe die mense voor die beeld buig as die trompet blaas. En natuurlik het Sadrag, Mesag en Abdnego bly staan, hulle het nie die beeld aanbid nie. Dit het uit die aard van die saak die koning se jaloerse amptenare baie kwaad gemaak en het hulle by die koning gaan klik.
Die beskrywing van die oond het veral die verbeelding aangegryp: daai oond was só warm dat selfs die outjies, wat die drie manne in die oond moes gooi, dood gebrand het. Uiteindelik val die drie Jode in die oond in, maar dan gebeur die wonderwerk hulle kom niks oor nie – hulle klere het nie eers na rook geruik nie.
Behalwe vir hierdie aksiebelaaide gebeure en die wonderwerk wat die Here gedoen het, is daar nog twee dinge wat my nou nog fasineer.
Die eerste is Sadrag, Mesag en Abednego se onwrikbare dapperheid en geloof. Wat moes dit gevat het vir hulle om ten spyte van die verskriklike waarskuwing en die realiteit van die vernietigende hitte van die oond, aan te hou glo en nie in te gee onder die druk nie?
In Daniël 3:16-18 lees ons hulle antwoord aan die koning:
“Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”
Mag die Here ons seën met daardie dapperheid en geloof!
Die tweede is die uiteindelike uitkoms van die hele storie. Waar die klomp wat by die koning gaan klik het eintlik die Naam van die Here wou skade doen, het hulle hele plan totaal en al ge-backfire. Want ons lees in Daniël 3:28-30 dat Nebukadnesar aan God die eer bring en selfs ‘n bevel uitvaardig dat iemand wat met minagting van God praat swaar gestraf sou word. En dat hy nog boonop daarna gesorg het dat dit goed gaan met Sadrag, Mesag en Abednego. Hy roep uit in vers 29: “Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.“
Mag ons vertroue op die Here só wees dat die wêreld rondom ons nie anders sal kan nie as om in Hom en Hom alleen te glo!
Gedagte vir die dag – Wie het die yskas oop vergeet?
Ek het al baie koud gekry in my lewe – ‘n mens maak vet mos net ‘n pan warm! Seker die koudste was op ‘n Skoolverlaterskamp op Roodebank. Dit is 40 km buite Standerton langs die Watervalrivier. Daar het die temperatuur by -17 grade gedraai… MINUS SEWENTIEN! Dit was rof! Maar koue is nie altyd net sleg nie – dit was deel van die magic van Roodebank. En so is daar sekere dinge wat mens eintlik baie positiewe herinneringe aan koudkry laat koppel – soos jag en visvang en kamp en roadtrips vroegoggend seetoe.
Maar ander kere is dit sommer net nie lekker nie! Wat mens wens vir die somer om weer te kom. Gelukkig hier in die Bosveld weet ons die winter kan nie so lank aanhou nie en gaan ons een van die dae weer kla van die hitte. Dis iets om na uit te sien.
Maar die koue het my vanoggend weer letterlik aan die ore beet en laat my toe dink aan die woorde van Psalm 147:15-18 wat sê:
Ook die seisoene is in sy Hand! Ons kan op Hom vertrou in die winter en in die somer – of watter seisoen dit ookal is.
Dieselfde Psalm 147 sê in vers 3-6: