Om te kan proe is eintlik so groot voorreg, is dit nie? Iemand kan iets wat hulle geëet het vir jou so goed beskryf as wat hulle kan en jy kan jouself indink en verbeel, maar om dit self te kan proe is eintlik die enigste manier om regtig te kan weet. As mens dink aan die fisiologie van hoe ons liggame gebou is en hoe dit werk dat ons kan proe wat ons proe, dan staan mens eintlik net weer verbaas en verslae dat die Here so iets ongeloofliks aanmekaar gesit het en dit vir ons gegee het om te geniet. Eintlik is al ons sintuie elkeen afsonderlik ‘n wonderwerk.
Dit maak die feit dat die Here vir ons die Nagmaal gegee het om sy liefde te kan vier en te onthou net soveel groter. Dat ons die tekens van brood en wyn kan sien en ruik en kan proe, maak dat ons kan deel in ‘n sensoriese belewenis wat ons geloof versterk en ons deel maak van die werklikheid van sy kruisiging. Dit maak dit erg persoonlik.
Psalm 34:9 sê:
Maar “kom ondervind” klink so amper onpersoonlik. Die nuwe Direkte Vertaling sê “Beproef dit en ervaar” wat dalk so bietjie nader aan die bedoeling kom. Maar wat letterlik daar staan is: “Kom proe en sien dat die Here goed is.” Dit is ondervind en beproef en ervaar, maar dit is meer as dit. As ons optel, bereken, oorweeg, vergelyk, toets, ontleed, bestudeer, analiseer, ondersoek gaan ons nie anders kan nie, as om te sien dat die Here goed is!
Mag ons elkeen die goedheid van die Here vandag persoonlik proe, maar mag ons ook só sout vir die wêreld wees dat die mense met wie ons paaie kruis ook, deur ons, kan proe dat die Here goed is!