Gister het ons bietjie oor die koue gesels en vandag maak ons bietjie vuur om warm te word. Een van my gunsteling Kinderbybel stories was altyd van Sadrag, Mesag en Abednego wat in die oond gegooi is en nie gebrand het nie. My verbeelding het altyd nog vir ure lank besig gebly soos wat ek die hele prentjie, soos ‘n fliek, vir myself in my gedagtes geteken het – van hoe dit rêrig moes gewees het, moes gelyk het. Lees gerus die hele Daniël 3 en leef jouself in die gebeure in.
Eers het ek probeer om vir myself in te dink hoe die groot goue beeld van Nebukadnesar moes gelyk het: 30 meter hoog en 3 meter breed. Dan sien ons die hele spektakel en hoe die mense voor die beeld buig as die trompet blaas. En natuurlik het Sadrag, Mesag en Abdnego bly staan, hulle het nie die beeld aanbid nie. Dit het uit die aard van die saak die koning se jaloerse amptenare baie kwaad gemaak en het hulle by die koning gaan klik.
Die beskrywing van die oond het veral die verbeelding aangegryp: daai oond was só warm dat selfs die outjies, wat die drie manne in die oond moes gooi, dood gebrand het. Uiteindelik val die drie Jode in die oond in, maar dan gebeur die wonderwerk hulle kom niks oor nie – hulle klere het nie eers na rook geruik nie.
Behalwe vir hierdie aksiebelaaide gebeure en die wonderwerk wat die Here gedoen het, is daar nog twee dinge wat my nou nog fasineer.
Die eerste is Sadrag, Mesag en Abednego se onwrikbare dapperheid en geloof. Wat moes dit gevat het vir hulle om ten spyte van die verskriklike waarskuwing en die realiteit van die vernietigende hitte van die oond, aan te hou glo en nie in te gee onder die druk nie?
In Daniël 3:16-18 lees ons hulle antwoord aan die koning:
“Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”
Mag die Here ons seën met daardie dapperheid en geloof!
Die tweede is die uiteindelike uitkoms van die hele storie. Waar die klomp wat by die koning gaan klik het eintlik die Naam van die Here wou skade doen, het hulle hele plan totaal en al ge-backfire. Want ons lees in Daniël 3:28-30 dat Nebukadnesar aan God die eer bring en selfs ‘n bevel uitvaardig dat iemand wat met minagting van God praat swaar gestraf sou word. En dat hy nog boonop daarna gesorg het dat dit goed gaan met Sadrag, Mesag en Abednego. Hy roep uit in vers 29: “Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.“
Mag ons vertroue op die Here só wees dat die wêreld rondom ons nie anders sal kan nie as om in Hom en Hom alleen te glo!