Ons het Sondag na 1 Konings 8:60 verwys en na die dinge wat die Here doen sodat die wêreld kan weet dat Hy die enigste God en Here is:
“Dan sal al die volke van die wêreld besef die Here is God; daar is nie ‘n ander nie”
Daar is baie sulke voorbeelde in die wonderlike verhale in die Ou Testament. Een daarvan is waar die Here die volk, ‘n tweede maal, droogvoets deur water laat trek. In Josua 3 en 4 gaan die volk die beloofde land binne wanneer hulle die Jordaanrivier oorkruis.
Ons lees in Josua 3:15-16 hierdie mooi beskrywing van hoe vol die rivier was en hoe die Here dit op een hoop laat staan het:
“Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny.”
Die hele volk het deur die rivier getrek totdat die Here weer die rivier laat vloei en die water weer oor die walle gespoel het. Josua gee dan die opdrag dat daar ‘n soort klipmonument gebou moet word sodat generasies daarna nog kon onthou wat die Here daar gedoen het. As die kinders hulle pa’s vra wat die klippe dan beteken, moet hulle vir die kinders vertel van hierdie magtige daad van God en waarom Hy dit gedoen het. Josua 4:24 vertel vir ons waarom:
“Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.“
Dit sluit aan by ons gesprek oor Daniël 3 van gister. Wat doen ons en waarvan vertel ons in ons eie lewens “sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is”?
Hy is die enigste Here! Die Lewende God! Hy is almagtig! Vertel dit altyd, oral.