In ‘n tyd waar alles so deurmekaar voel het ons baie wysheid nodig. Die toekoms is onseker. Ons weet nie hoe lank 2020 nog gaan wees nie. Die hede is deurmekaar – die regulasies waarbinne mens moet bly is so omslagtig en van hulle maak vir ons maar min sin. Boonop voel dit ook nie of mens kan bybly met alles nie. Die regulasies verander vinniger as wat jy kanale op DSTV verander opsoek na iets wat die moeite werd is om te kyk. Mens kry behoorlik daai “verkleurmannetjie op ‘n Smartieboksie”-gevoel…
Ons kan maar net bid en vra vir wysheid. Dat ons nou met wysheid kan optree en die regte besluite kan neem en die regte dinge nou kan doen wat die beste is vir ons kinders, vir ons land, vir ons mense – sodat ons werklik sterker aan die anderkant kan uitkom. So moet ons ook bid vir wysheid vir ons regering, en vir mense in leiersposisies in elke sektor van ons samelewing.
Maar waar begin mens? Waar gaan soek ons vir wysheid? In die Bybel is wysheid baie meer as net dit wat ons gewoonlik daarmee assosieer. Ons dink gewoonlik dadelik aan ‘n groot uil of aan iemand met grys hare as dit kom by wysheid. Maar Bybelse wysheid is baie meer as dit. Meer as kennis en ervaring en deurleefde insig. Die groot omvang van die wysheidsliteratuur (Job, Psalms, Spreuke, Prediker, Hooglied) in die Bybel is die bewys daarvan.
Maar Psalm 111:10 stel dit eintlik vir ons baie eenvoudig:
Dien die Here! Dit is die begin van wysheid! As dit nog bietjie onduidelik is wat dit beteken, dan help Miga 6:8-9 ons:
Mag dáárdie soort wysheid sigbaar word in ons lewens, elke dag.