Gedagte vir die dag – Elkeen

Hoeveel keer het jy al Johannes 3:16 gelees of gehoor?  Dit is een van daardie verse wat ons al te veel gehoor het – dat ons nie meer genoeg aandag gee nie, want ons het mos al gehoor, ons weet dit mos.  En ter selfde tyd is dit een van die verse wat ons nooit genoeg kan hoor nie, omdat ons tog so gou die volle betekenis daarvan vergeet en nog baie het om daaruit te leer.

Die 1983 vertaling verwoord dit so:God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Maar ek dink jy sal saamstem dat dit eerder die Ou Vertaling se weergawe is wat in ons koppe ingeprent is: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Vanoggend is dit hierdie woordjie “elkeen” wat my soos ‘n hamer tussen die oë tref. Die Griekse woord hier is net 3 lettertjies, maar die volle gewig daarvan is groot!  Die insluiting van ALMAL, die hele kosmos word hier duidelik, maar aan die anderkant sluit dit ook die ELKEEN in.

Die Here Jesus het die wêreld kom vrymaak en totaal en al verander.  Maar Hy het nie net gekom om ‘n nuwe stel reëls te kom neerlê of ‘n nuwe godsdiens in te lei of ‘n morele sisteem in plek te sit nie.  Hy kom om redding te bring! Om God met ons te word. Hy kom leef en doen wat Hy sê, stel die voorbeeld en wys vir ons wat liefde is.

Hy doen dit vir die hele wêreld, maar ook vir ELKEEN. Ook vir my en vir jou. Persoonlik. Sodat ELKEEN van ons sy liefde kan ken en dat elkeen van ons die lewe kan hê.

Die wêreld rondom jou kan lyk soos een groot storm, dit kan voel of jou verlede jou wil inhaal, dit kan voel of mense net sleg van jou dink en praat – wat dit ookal mag wees – daar is een werklikheid wat groter is as hulle almal: Jesus het JOU lief en Hy het vir JOU gesterf! Hy kom woon in jou en is die bron van liefde en hoop. Glo dit, sing dit, leef dit, skree dit, wêreldwyd.

Kolossense 1:27 sê:

“God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.

Gedagte vir die dag – Sterre

Gepraat van klein voel – as jy dink die Drakensberg laat ‘n mens klein voel, kyk net nog bietjie verder op, want die onmeetbare sterrehemel kry dit nog bietjie beter reg.

Geen platform/formaat is groot genoeg om al die mindblowing feite oor die sterre te kan neerpen nie, wat nog van ‘n klein dagstukkie.  Wat ek eintlik daarmee bedoel is, moenie my woord daarvoor vat nie en gaan ondersoek en bestudeer self die ongelooflike dinge wat die Here in die sterrehemel geplaas het.

Kom ons fokus maar net op twee sake hier.  Ons sou nou nog kon uitbrei en praat oor die grootte van die sterre en ander planete en van die magte en kragte wat in die hemelruim in spel is ensovoorts, maar ek dink nie enige een van ons se breins kan soveel vat op ‘n Vrydag nie.

Eerstens, die afstande.  Natuurlik het ons almal ‘n idee van wat ‘n ligjaar is, want dit is die eenheid waarin daar gemeet word in die ruimte.  Dit is die afstand wat lig aflê teen 300000 m/s vir 365 dae lank – 9 460 730 472 580.8 km.  Dit groot nommers.  Die sterrestelseltjie waarvan ons deel is – die Melkweg – is daardie lang nommer, maal 100 000 in deursnee. ‘n 100 000 ligjare! En ons sterrestelsel is maar een van miljoene in die heelal.  En die sterre is miljoene ligjare uitmekaar.

Die bring ons by die tweede saak en dit is die hoeveelheid sterre in ons heelal. Net in ons sterrestelsel is daar genoeg sterre dat as jy hulle een vir een, een per sekonde sou tel, dit jou 3000 jaar sou vat om hulle almal te tel.  En weereens is dit net ons enkele sterrestelsel – daar is omtrent ‘n 100 biljoen sterrestelsels, elkeen met biljoene sterre! Navorsers by die Universiteit van Hawaii het bereken dat daar vir elke enkele korreltjie sand op elke strand op aarde, nog 10 000 sterre in die hemel is.

Met bg. in gedagte maak dit natuurlik die woorde van Jesaja 40 soveel groter!  Vers 12 sê die Here het “met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal”.  In vers 26 lees ons:

“Kyk op na die hemel:
wie het die sterre geskep?
Hy wat die hemelse leër laat uittrek
in hulle volle getal,
dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.
Met sy groot krag, sy groot mag,
sorg Hy dat geeneen van hulle
ontbreek nie.”

Die Ou Vertaling sê “Hy roep hulle almal by die naam”.  Kyk op na die sterre en weet, dieselfde God wat elkeen van daardie sterre op hul naam roep, Hy ken jou naam en Hy is lief vir jou.

Ons Here is groot en almagtig! Sy mag en sy genade is onbegrens!  Aan sy liefde is daar geen einde nie!

Gedagte vir die dag – Berge

Die volgende vers van Psalm 97 sit nou in my kop vas.  Na die weerligstrale in vers 4 sê vers 5:

“Berge smelt soos was voor die Here, voor die Here van die aarde.”

Ons Here is so groot dat die berge, wat vir ons oorweldigend en onbeweegbaar is, vir Hom maar ‘n stoffie op die skaal is en kan wegsmelt soos kerswas.  Nie net dit nie – Hy het daardie groot berge ook gemaak!

Vir ‘n outjie wat hoogtevrees het, soos ek, is dit altyd ‘n emosionele belewenis om bo-op enige hoogte te staan, wat nog van ‘n hoë berg.  Mens dink altyd jy het ‘n idee van hoe groot iets is, maar jou perspektief verander baie vinnig as jy bo-op die Drakensberge staan teenoor om bo-op die Magaliesberg te staan.  Daar bo-op die Drakensberge voel ‘n mens werklik klein en kry mens weer ‘n gevoel van jou eie plek/posisie in die groter prentjie van die werklikheid.

Dan word ek sommer weer oorweldig deur die grootheid van God se genade.  Dat ek, wat eintlik klein en nietig is, minder as ‘n stoffie op die skaal van die heelal, vir God belangrik genoeg is dat Hy ook vir my verlossing bewerk het aan die kruis.  Dat Jesus ook vir my so lief is dat Hy ook vir my aan die kruis gesterf het.  Hoe groot en oneindig en almagtig is ons God!

Ons staan egter tog nie altyd bo-op die berge nie, partykeer staan ons onder in die vallei en kyk op.  Ons ken tog die mooi Afrikaanse uitdrukking: “dit lê soos ‘n berg voor my”.  Maar ook daar kan ons weet waar ons hulp vandaan kom en weet die Here het ook die mag oor die berge wat voor ons lê en vir ons onoorkombaar lyk.

Ons het in ons heel eerste Lockdown dagstukkie verwys na Psalm 46 (Wees stil en weet).  Hoor wat sê vers 2-4:

God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood.
Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
al druis en skuim die waters van die see,
al skud die berge deur sy onstuimigheid.”

Of jy vandag voel of bo-op die berg staan, on top of the world, en of jy onder in die vallei is en nie weet hoe om die berg te klim nie – weet die Here is by jou en Hy is groter as hierdie berg!

Gedagte vir die dag – Donderweer

Ek verlang vandag sommer na donderstorms.  Dit is een van die lekkerste goed van die plek waar ons bly en waarsonder mens nie lank kan oorleef nie.  Ons ken dit so goed en anvaar dit soms as vanselfsprekend.  Maar dit was vir my baie snaaks om te sien hoe die arme Kapenaars, wat nog nooit weerlig gesien het nie, dekslaan en wegkruip toe die weerlig slaan.  Terwyl hulle vensters en deure toemaak, maak ons als oop dat ons die reën kan hoor en ruik!

Dalk is dit die droë, koue wind wat hierdie winter die stof heen en weer waai wat maak dat ek nou lus is vir ‘n somer donderstorm.  Een van daai wat jy die donderweer van ver af hoor aanrol en dan skielik hoor jy dit nie meer nie, maar voel dit vibreer in jou binneste. Eers ruik ‘n mens die reën kom nader, dan kom die flitse en die harde knal en dan kom die reën.

Geen wonder dat die mense, voordat hulle iets van natuurwetenskap geweet het, probeer het om hierdie verskynsel te verduidelik as iets bonatuurliks. Noudat ons die weerlig kan analiseer en wetenskaplik verduidelik is dit eintlik net nog ‘n groter bevestiging dat net die Lewende Here is, die Almagtige wat dit so kon geskape het.

Vir my persoonlik is weerlig en donderweer sonder twyfel ‘n tentoonstelling van God se mag. Of dit nou geluidloos tussen die donkerwolke spring, ver op die horison flits en of dit oorverdowend rondom ons dreun – dit alles reflekteer vir my God se mag en glorie. So staan ek een aand saam met drie van my vriende en staar vir die weerlig wat flits in die verte. Ons merk toe al vier op dat daar regtig ritme in die weerligstrale was en begin toe ‘n liedjie luister, sommer op ‘n selfoon.  Dit was asof die weerlig presies op die maat van die musiek heen en weer tussen die wolke gedans het, kompleet asof dit so beplan was en die blitse ‘n loflied tot eer van die Skepper wou sing.

Daardie herinnering laat my altyd dink aan Psalm 97:2-6.  Die Psalm teken so pragtige prentjie van die Here se mag:

“Die Here is omgewe van donker wolke;
sy troon is gebou op reg en geregtigheid.
‘n Vuur trek voor Hom uit
en verteer sy vyande aan alle kante.
Sy weerligstrale verlig die wêreld;
die aarde sien dit en bewe.
Berge smelt soos was voor die Here,
voor die Here van die aarde.
Die hemel getuig dat Hy regverdig is
en al die volke sien sy magtige verskyning.”

En dan kan ons ook uitsien na die geluid van donderweer wat geheel en al iets anders gaan wees wanneer ons kan deelwees van die triomftog van die Oorwinnaar – en ons ons stemme kan voeg by die bruilof van die Lam.  Openbring 19:5-6 vertel vir ons daarvan:

Toe het daar ‘n stem van die troon af gekom wat gesê het:
“Loof ons God, al sy dienaars,
dié wat Hom vrees, klein en groot!”
Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ‘n groot menigte, soos die gedruis van ‘n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep:
“Prys die Here!
Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning.”

Gedagte vir die dag – Veldbrand

Ons het gister uit Kolossense 1:11 gelees, maar net so paar verse voor dit is daar ‘n vers wat geLAAI is met ‘n klomp belangrike waarhede.

Vers 6 sê: Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is.”

Wag, hoor hoe klink dieselfde vers in die Boodskap vertaling:

“Julle is nie die enigstes wat die goeie nuus gehoor het nie. Oor die hele wêreld het die wonderlike nuus al by mense uitgekom en steeds versprei dit soos ’n veldbrand. Net mooi oral kom ’n mens die vrugte daarvan teë. Julle het self mos ervaring daarvan. Van die dag af dat dit tot julle deurgedring het hoe goed God vir julle is sonder dat julle dit regtig verdien, weet julle dat die ware God aan die werk is.”

Tussen al die slegte nuus wat ons daagliks hoor, en die frustrasies wat ons beleef en die dinge wat ons bekommer, is hierdie vers vir my ‘n groot stuk bemoediging vandag.

  • Daar is nog goeie, wonderlike nuus – Jesus het vir ons gesterf en het opgestaan uit die dood en daarom kan ons die ewige lewe hê.
  • Hierdie nuus versprei soos ‘n veldbrand – Die wêreld het al probeer om die Goeie Nuus in te perk en weg te steek, maar kon dit nog nooit uitdoof nie.  Dit is so mooi uitdrukking wat ons in Afrikaans het: dit versprei soos ‘n veldbrand.  Ons ken tog die slegte en vernietigende kant van ‘n veldbrand, maar hier gaan dit oor die onkeerbare spoed daarvan.
  • Ons ken dit en sien die vrugte daarvan – Dalk moet ons perspektief ook nou en dan so bietjie verander en moet ons weer ‘n slag net rondom ons kyk en die goeie in mense raaksien.  Raaksien waar die Here reeds en nog steeds besig is om in en deur mense te werk.
  • Hoe goed God vir ons is sonder dat ons dit verdien – Sjoe! Dit is genade! Dat die Here vir ons gee wat ons nie verdien nie – die Lewe!  Dit is die wonderlike nuus.
  • Dat die ware God aan die werk is – God is aan die werk. Hy is nog al die tyd aktief betrokke in ons lewens.  Met sy eie magtige Hand beskerm Hy ons en stuur Hy ons en hou Hy ons vas.

Ons kan kies om deel te wees van die veldbrand en die Goeie nuus versprei.   Nie skinderstories, slegte praatjies, fopnuus of enige een van daai nie.  Kom ons blaas hierdie Veldbrand aan en wees verspreiders van die Blye Boodskap.

Soos ons eie Veldbrand liedjie sê:

“Ons sing dit! Ons skree dit! Ons dans en ons leef dit!
Hoe goed U vir ons is – Dis U Koning Jesus!
Ek sing dit! Ek skree dit! Ek dans en ek leef dit!
Daar’s ‘n veldbrand in my hart wat vir altyd net vir U sal brand”