Gedagte vir die dag – Berge

Die volgende vers van Psalm 97 sit nou in my kop vas.  Na die weerligstrale in vers 4 sê vers 5:

“Berge smelt soos was voor die Here, voor die Here van die aarde.”

Ons Here is so groot dat die berge, wat vir ons oorweldigend en onbeweegbaar is, vir Hom maar ‘n stoffie op die skaal is en kan wegsmelt soos kerswas.  Nie net dit nie – Hy het daardie groot berge ook gemaak!

Vir ‘n outjie wat hoogtevrees het, soos ek, is dit altyd ‘n emosionele belewenis om bo-op enige hoogte te staan, wat nog van ‘n hoë berg.  Mens dink altyd jy het ‘n idee van hoe groot iets is, maar jou perspektief verander baie vinnig as jy bo-op die Drakensberge staan teenoor om bo-op die Magaliesberg te staan.  Daar bo-op die Drakensberge voel ‘n mens werklik klein en kry mens weer ‘n gevoel van jou eie plek/posisie in die groter prentjie van die werklikheid.

Dan word ek sommer weer oorweldig deur die grootheid van God se genade.  Dat ek, wat eintlik klein en nietig is, minder as ‘n stoffie op die skaal van die heelal, vir God belangrik genoeg is dat Hy ook vir my verlossing bewerk het aan die kruis.  Dat Jesus ook vir my so lief is dat Hy ook vir my aan die kruis gesterf het.  Hoe groot en oneindig en almagtig is ons God!

Ons staan egter tog nie altyd bo-op die berge nie, partykeer staan ons onder in die vallei en kyk op.  Ons ken tog die mooi Afrikaanse uitdrukking: “dit lê soos ‘n berg voor my”.  Maar ook daar kan ons weet waar ons hulp vandaan kom en weet die Here het ook die mag oor die berge wat voor ons lê en vir ons onoorkombaar lyk.

Ons het in ons heel eerste Lockdown dagstukkie verwys na Psalm 46 (Wees stil en weet).  Hoor wat sê vers 2-4:

God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood.
Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
al druis en skuim die waters van die see,
al skud die berge deur sy onstuimigheid.”

Of jy vandag voel of bo-op die berg staan, on top of the world, en of jy onder in die vallei is en nie weet hoe om die berg te klim nie – weet die Here is by jou en Hy is groter as hierdie berg!