Gepraat van klein voel – as jy dink die Drakensberg laat ‘n mens klein voel, kyk net nog bietjie verder op, want die onmeetbare sterrehemel kry dit nog bietjie beter reg.
Geen platform/formaat is groot genoeg om al die mindblowing feite oor die sterre te kan neerpen nie, wat nog van ‘n klein dagstukkie. Wat ek eintlik daarmee bedoel is, moenie my woord daarvoor vat nie en gaan ondersoek en bestudeer self die ongelooflike dinge wat die Here in die sterrehemel geplaas het.
Kom ons fokus maar net op twee sake hier. Ons sou nou nog kon uitbrei en praat oor die grootte van die sterre en ander planete en van die magte en kragte wat in die hemelruim in spel is ensovoorts, maar ek dink nie enige een van ons se breins kan soveel vat op ‘n Vrydag nie.
Eerstens, die afstande. Natuurlik het ons almal ‘n idee van wat ‘n ligjaar is, want dit is die eenheid waarin daar gemeet word in die ruimte. Dit is die afstand wat lig aflê teen 300000 m/s vir 365 dae lank – 9 460 730 472 580.8 km. Dit groot nommers. Die sterrestelseltjie waarvan ons deel is – die Melkweg – is daardie lang nommer, maal 100 000 in deursnee. ‘n 100 000 ligjare! En ons sterrestelsel is maar een van miljoene in die heelal. En die sterre is miljoene ligjare uitmekaar.
Die bring ons by die tweede saak en dit is die hoeveelheid sterre in ons heelal. Net in ons sterrestelsel is daar genoeg sterre dat as jy hulle een vir een, een per sekonde sou tel, dit jou 3000 jaar sou vat om hulle almal te tel. En weereens is dit net ons enkele sterrestelsel – daar is omtrent ‘n 100 biljoen sterrestelsels, elkeen met biljoene sterre! Navorsers by die Universiteit van Hawaii het bereken dat daar vir elke enkele korreltjie sand op elke strand op aarde, nog 10 000 sterre in die hemel is.
Met bg. in gedagte maak dit natuurlik die woorde van Jesaja 40 soveel groter! Vers 12 sê die Here het “met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal”. In vers 26 lees ons:
“Kyk op na die hemel:
wie het die sterre geskep?
Hy wat die hemelse leër laat uittrek
in hulle volle getal,
dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.
Met sy groot krag, sy groot mag,
sorg Hy dat geeneen van hulle
ontbreek nie.”
Die Ou Vertaling sê “Hy roep hulle almal by die naam”. Kyk op na die sterre en weet, dieselfde God wat elkeen van daardie sterre op hul naam roep, Hy ken jou naam en Hy is lief vir jou.
Ons Here is groot en almagtig! Sy mag en sy genade is onbegrens! Aan sy liefde is daar geen einde nie!