Gedagte vir die dag – Veldbrand

Ons het gister uit Kolossense 1:11 gelees, maar net so paar verse voor dit is daar ‘n vers wat geLAAI is met ‘n klomp belangrike waarhede.

Vers 6 sê: Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is.”

Wag, hoor hoe klink dieselfde vers in die Boodskap vertaling:

“Julle is nie die enigstes wat die goeie nuus gehoor het nie. Oor die hele wêreld het die wonderlike nuus al by mense uitgekom en steeds versprei dit soos ’n veldbrand. Net mooi oral kom ’n mens die vrugte daarvan teë. Julle het self mos ervaring daarvan. Van die dag af dat dit tot julle deurgedring het hoe goed God vir julle is sonder dat julle dit regtig verdien, weet julle dat die ware God aan die werk is.”

Tussen al die slegte nuus wat ons daagliks hoor, en die frustrasies wat ons beleef en die dinge wat ons bekommer, is hierdie vers vir my ‘n groot stuk bemoediging vandag.

  • Daar is nog goeie, wonderlike nuus – Jesus het vir ons gesterf en het opgestaan uit die dood en daarom kan ons die ewige lewe hê.
  • Hierdie nuus versprei soos ‘n veldbrand – Die wêreld het al probeer om die Goeie Nuus in te perk en weg te steek, maar kon dit nog nooit uitdoof nie.  Dit is so mooi uitdrukking wat ons in Afrikaans het: dit versprei soos ‘n veldbrand.  Ons ken tog die slegte en vernietigende kant van ‘n veldbrand, maar hier gaan dit oor die onkeerbare spoed daarvan.
  • Ons ken dit en sien die vrugte daarvan – Dalk moet ons perspektief ook nou en dan so bietjie verander en moet ons weer ‘n slag net rondom ons kyk en die goeie in mense raaksien.  Raaksien waar die Here reeds en nog steeds besig is om in en deur mense te werk.
  • Hoe goed God vir ons is sonder dat ons dit verdien – Sjoe! Dit is genade! Dat die Here vir ons gee wat ons nie verdien nie – die Lewe!  Dit is die wonderlike nuus.
  • Dat die ware God aan die werk is – God is aan die werk. Hy is nog al die tyd aktief betrokke in ons lewens.  Met sy eie magtige Hand beskerm Hy ons en stuur Hy ons en hou Hy ons vas.

Ons kan kies om deel te wees van die veldbrand en die Goeie nuus versprei.   Nie skinderstories, slegte praatjies, fopnuus of enige een van daai nie.  Kom ons blaas hierdie Veldbrand aan en wees verspreiders van die Blye Boodskap.

Soos ons eie Veldbrand liedjie sê:

“Ons sing dit! Ons skree dit! Ons dans en ons leef dit!
Hoe goed U vir ons is – Dis U Koning Jesus!
Ek sing dit! Ek skree dit! Ek dans en ek leef dit!
Daar’s ‘n veldbrand in my hart wat vir altyd net vir U sal brand”