Hoeveel keer het jy al Johannes 3:16 gelees of gehoor? Dit is een van daardie verse wat ons al te veel gehoor het – dat ons nie meer genoeg aandag gee nie, want ons het mos al gehoor, ons weet dit mos. En ter selfde tyd is dit een van die verse wat ons nooit genoeg kan hoor nie, omdat ons tog so gou die volle betekenis daarvan vergeet en nog baie het om daaruit te leer.
Die 1983 vertaling verwoord dit so: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Maar ek dink jy sal saamstem dat dit eerder die Ou Vertaling se weergawe is wat in ons koppe ingeprent is: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Vanoggend is dit hierdie woordjie “elkeen” wat my soos ‘n hamer tussen die oë tref. Die Griekse woord hier is net 3 lettertjies, maar die volle gewig daarvan is groot! Die insluiting van ALMAL, die hele kosmos word hier duidelik, maar aan die anderkant sluit dit ook die ELKEEN in.
Die Here Jesus het die wêreld kom vrymaak en totaal en al verander. Maar Hy het nie net gekom om ‘n nuwe stel reëls te kom neerlê of ‘n nuwe godsdiens in te lei of ‘n morele sisteem in plek te sit nie. Hy kom om redding te bring! Om God met ons te word. Hy kom leef en doen wat Hy sê, stel die voorbeeld en wys vir ons wat liefde is.
Hy doen dit vir die hele wêreld, maar ook vir ELKEEN. Ook vir my en vir jou. Persoonlik. Sodat ELKEEN van ons sy liefde kan ken en dat elkeen van ons die lewe kan hê.
Die wêreld rondom jou kan lyk soos een groot storm, dit kan voel of jou verlede jou wil inhaal, dit kan voel of mense net sleg van jou dink en praat – wat dit ookal mag wees – daar is een werklikheid wat groter is as hulle almal: Jesus het JOU lief en Hy het vir JOU gesterf! Hy kom woon in jou en is die bron van liefde en hoop. Glo dit, sing dit, leef dit, skree dit, wêreldwyd.
Kolossense 1:27 sê:
“God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.“