Gedagte vir die dag – Wie het die yskas oop vergeet?

Ek het al baie koud gekry in my lewe – ‘n mens maak vet mos net ‘n pan warm!  Seker die koudste was op ‘n Skoolverlaterskamp op Roodebank.  Dit is 40 km buite Standerton langs die Watervalrivier.  Daar het die temperatuur by -17 grade gedraai… MINUS SEWENTIEN! Dit was rof! Maar koue is nie altyd net sleg nie – dit was deel van die magic van Roodebank.  En so is daar sekere dinge wat mens eintlik baie positiewe herinneringe aan koudkry laat koppel – soos jag en visvang en kamp en roadtrips vroegoggend seetoe.

Maar ander kere is dit sommer net nie lekker nie! Wat mens wens vir die somer om weer te kom.  Gelukkig hier in die Bosveld weet ons die winter kan nie so lank aanhou nie en gaan ons een van die dae weer kla van die hitte.  Dis iets om na uit te sien.

Maar die koue het my vanoggend weer letterlik aan die ore beet en laat my toe dink aan die woorde van Psalm 147:15-18 wat sê:

As Hy die aarde ‘n bevel gee,
word dit vinnig uitgevoer.
Hy gee sneeu so wit soos wol,
Hy strooi ryp uit soos as,
Hy laat dit haelstene reën.
Wie is bestand teen die koue wat Hy stuur?
Maar op sy bevel smelt alles weer;
as Hy die warm wind laat waai, dan loop die waters.”

Ook die seisoene is in sy Hand!  Ons kan op Hom vertrou in die winter en in die somer – of watter seisoen dit ookal is.

Dieselfde Psalm 147 sê in vers 3-6:

“Hy genees die gebrokenes van hart
en verbind hulle wonde.
Hy besluit oor die getal van die sterre
en gee elkeen ‘n naam.
Ons Here is groot en magtig,
sy kennis is onbegrens.
Die Here laat die hulpeloses weer opstaan,
maar die goddeloses verneder Hy tot in die grond.”