Verlange Dag 11 – Gemoed

Ons is nou al amper gewoond daaraan om ons self voor te berei vir gemengde emosies as ons hoor dat die President weer die land gaan toespreek.  Daar is al klaar weer ‘n klomp grappies wat oral die rondte doen oor wat gebeur as ons die woorde “My fellow South-Africans…” hoor. Weereens ‘n bewys van hoe ons Suid-Afrikaners (waarskynlik meer as op enige ander plek in die wêreld!) amper onmiddelik enige ramp of tragedie met humor aanpak.

Dit sê iets van ons mense se ingebore vermoë om deur moeilike omstandighede positief te bly en vorentoe te beur.  Maar ek vermoed dat vreemdelinge wat van buite af kyk tussen al die grappies dalk die verkeerde idee kan kry.  Want ek is oortuig dat die humor waarmee ons dinge hanteer nie net ‘n blote pleistertjie is of ‘n vindingryke vermydingstegniek nie.  Onder die grappies en die lag wat ons saambind is daar sterk geloof en diep emosies wat ons dryf.

In hierdie jaar is ons gemoed tot nuwe uiterstes gerek en geknie en getoets en dit lyk asof dit nog vir ‘n rukkie gaan aanhou.  Die vraag is dan hoeveel ons gemoed nog kan vat en wat as ons voel dit raak nou te veel? Gaan ‘n mens dan nou sleg lyk of lyk of mens hoop verloor het as ons toelaat dat die emosie in ons gemoed opborrel en sigbaar word in trane?

Ons kry in die Afrikaanse Bybel een van die mooiste uitdrukkings.  En die plek waar dit staan en die feit dat dit gebeur gee vir my hoop oor ons eie emosies en juis daarom is daar hoop! Ons lees dat die Here Jesus se “gemoed vol geskiet” het.

Ons kry die uitdrukking twee maal in Johannes 11:33-38:

Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.” Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?” Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ‘n rotsgraf, en daar was ‘n klip voor die ingang gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”

Die Koning van die konings het nádat Hy vir Maria verseker het dat haar broer weer sal leef en geweet het dat Hy hom gaan opwek nog steeds nie die emosie in sy gemoed weggesteek nie.  Sy gemoed het vol geskiet. Dit sê vir my twee goed. Een is dat ons na die Here toe kan gaan met ons eie emosies en weet dat Hy dit verstaan en dit ken.  En twee, is dat selfs in die onmoontlikste, uitsiglose omstandighede ons op Hom kan vertrou by Wie niks onmoontlik is nie!

Onthou die Here Jesus se uitnodiging in Matteus 11:28-29 waar Hy sê:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.”