Die doksologie (‘n liturgiese formule of lied wat die Here prys) aan die einde van Romeine 11 val so goed op ‘n mens se oor. Die ritme daarvan maak dat ‘n mens dit eintlik wil sing. Maar soos baie lofliedere is dit ter selfde tyd ook ‘n diep geloofsbelydenis. Dit beteken dat wanneer ons hierdie woorde lees en wanneer ons lofliedere sing moet ons mooi dink oor wat ons sê. Verstaan ons wat ons bedoel?
My pel sê dit altyd andersom: bedoel wat jy verstaan? Dit maak in hierdie situasie so baie sin! Dat ons sal bedoel wat ons verstaan.
Die woorde van ons liedere dien as lof en eer aan God maar kan ook leeg wees as dit nie uit ons harte kom en ons regtig bedoel wat ons sê nie. Dit gaan tog ook oor die bedoeling van ons harte en nie alles net altyd oor wat ons met ons verstandjies verstaan nie!
So, ter selfde tyd is dit ook goed om hierdie, ander lofliedere, oor en oor met opregte lof in ons harte te sing en die woorde ons dan herinner aan Wie God is en so WORD dit dit wat ons glo en verstaan en bely oor God. Laat ons opregte bedoeling dan wees om die Here intensioneel, aspris, met ons hele harte en hele verstand te loof, met elke woord, en nie maar net uit gewoonte nie.
Kyk mooi na die woorde van Romeine 11:33-36 en dink na oor wat dit vir jou beteken en wat dit vir jou sê oor God. Glo jy dit? As alle dinge “uit Hom en deur Hom en tot Hom is”, is dit ook waar van jou lewe? Leef jy ook “tot Hom”? Vir Hom, tot sy eer?