Hoe belangrik is jou naam vir jou? Dit is tog nie net ‘n woord of ‘n benoeming nie, dit het gevoel en ‘n sekere waarde aan gekoppel. Hoe mense jou naam gebruik, verbuig, misbruik, verkeerd spel of verkeerd uitspreek het altyd ‘n emosionele uitwerking op ‘n mens.
Daar is baie keer verbuigings van ons name wat byname word en solank ons pelle daardie byname met deernis en liefde gebruik kan die naampies hoe belaglik wees, dit voel eintlik goed om só ‘n bynaam te hê. Maar dan is daar natuurlik ander wat weer aangewend word met baie moedswilligheid omdat dit so sigbaar seer is om daardie naam te hoor. Vir ‘n man soos ek wat mooi dames ken wat dieselfde naam (selfs met dieselfde spelling!) as ek het, moes ook maar deurloop onder die byname. Gelukkig is daar weer ‘n ander klomp byname wat mens weer bietjie beter laat voel.
Die punt is dat ons voel ‘n mate van erkenning (en nie net herkenning nie) op grond van die manier hoe mense ons name gebruik. Dink maar aan hoe dit voel as iemand wie jy gedink het jy teen hierdie tyd al ‘n redelike indruk op gemaak het, en veronderstel is om jou te ken, vir die soveelste keer jou naam verkeerd sê of sommer net vergeet. Of hoe verrassend lekker dit is as iemand na wie jy opkyk, en volgens jou eintlik te groot en belangrik is om om te gee, tog wel jou naam onthou en weet wie jy is.
Ons het nou al in die afgelope tyd soveel keer en op soveel maniere na Jesaja 43 verwys sonder om regtig by hierdie punt stil te staan. Vers 1 sê:
Ons kan so opgewerk raak oor hoe mense ons name onthou of vergeet of gebruik of misbruik, maar die wonderlike en allesoorheersende realiteit is die Belangrikste Persoon wat daar is, jou op jou naam ken! Die Koning van die konings en die Skepper van die heelal wat alles gemaak het wat ons kan sien en nie kan sien nie – Hy is so groot dat Hy jou ook op jou naam ken. Hy roep jou op jou naam en jy is Syne! Dit beteken dat Hy ook vir jou, op jou naam gesterf het, jou op jou naam verlos het, vir jou op jou naam lief is. Jy is nie maar net toevallig ‘n mens wat maar toevallig hier op aarde rond swerf nie. Jy het ‘n doel en jy behoort aan die Koning.
Die volgende keer as iemand vra “wat’s jou naam nouweer” of jou naam verkeerd sê, dink daaraan: God ken my naam!