Gedagte vir die dag – Rede om voor dankbaar te wees

Ons kuier hierdie week in Psalm 136 en ek wil vir jou vra om die hele psalm nog ‘n slag deur te lees.  Konsentreer hierdie keer, terwyl jy lees, op die werkwoorde wat die psalm gebruik.

Die werkwoorde beskryf die dinge wat die Here doen: gedoen, gemaak, gevestig, getref, gekloof, gelei, verslaan, gedink, gegee, bevry, ens.  Hier word nie gepraat, sommer net van abstrakte idees of metaforiese handelinge van ‘n God wat opgemaak en vêr is nie.  Hier word gepraat van fisiese gebeure, fisiese handelinge van die lewende God binne in ons wêreld, binne in ons geskiedenis.

Dit opsig self is vir my ‘n wonderlike troos. Die feit dat die Here van die heelal, die Koning en Oppermagtige God, nie veraf en onbekend bly nie, maar dat Hy so groot is en vir ons so lief is dat Hy binne in ons wêreld Homself sigbaar maak en sigbaar betrokke is in mense se lewens.

Maar dit is ook ‘n belangrike manier om na God se betrokkenheid in elkeen van ons lewens te kyk. Wanneer ons dink aan hoe die Here in ons eie persoonlike lewens figureer dan help dit ons baie om daaraan te dink in terme van werkwoorde.  Dinge wat Hy fisies DOEN en geDOEN het in ons lewens.  Ons praatjies oor God kan soms wollerig en onduidelik raak, maar wanneer ons onsself dwing om oor die werkwoorde te dink dan ontdek mens baie keer dat die Here baie meer in ons lewens betrokke is as wat ons op die oog af gedink het.

Daarom wil ek jou ook uitnooi om êrens deur die loop van die dag so bietjie na te dink oor wat die Here in jou lewe DOEN en geDOEN het en dalk is dit goed as jy iewers ‘n nota kan maak en net die werkwoorde neer te skryf.

Wanneer ons dit doen is ons eintlik besig met dieselfde proses in ons harte as dit wat die Psalmdigter hier doen.  En gaan ons baie vinnig besef, dat ongeag van ons huidige omstandighede, daar altyd iets is om voor dankbaar te wees.  Om dit te ontdek help ons weer om nuwe perspektief te kry op ons huidige omstandighede.

Mag jy ook vandag opnuut ontdek dat die Here aktief in jou lewe werk. En mag jy daarin ook opnuut ontdek dat sy troue liefde vir ewig duur.

Psalm 18 sê in vers 36 vir ons iets oor die Here se regterhand, sy fisiese betrokkenheid in ons lewens:

“Die redding wat U gebring het,
was vir my ‘n beskerming,
u regterhand het my ondersteun,
deur u hulp het ek sterk geword.”