Gedagte vir die dag – Geroep om te verskil

In die tye waarin ons vandag lewe het dit al moeiliker begin raak om van mense te verskil.  Sosiale media blaas natuurlik hierdie vuur aan omdat elkeen nou ‘n openbare platform het en ‘n opinie kan lewer sonder om regtig terug te deins vir die nagevolge.  Maar dit het tot gevolg dat alles nou polities, ekonomies, humanisties, teologies (ensovoorts!) verskriklik gelaai is.  En wanneer ‘n mens van iemand anders se standpunt verskil dan is dit nie meer genoeg om met mekaar te praat oor ons verskille en in die proses te groei nie.  Nee, as jy nou van iemand se standpunt verskil dan lyk dit vir my dink meeste mense dat jy met opset heeltemal die teenoorgestelde standpunt inneem, reglynig en aggressief teen die ander persoon staan en ter selfde tyd eintlik skuldig is aan haatspraak en naamskending.  Dis rof daar buite.  Daar is nie meer gesonde gesprek nie, daar is nie meer plek vir ‘n middeweg nie.  Dit is of reg of weg.

Dit is ‘n hartseer stand van sake.  Maar dit is ook ‘n situasie waarvoor die Here ons as sy kinders juis roep om ‘n verskil te wees.  Ons moenie gelyk word aan die skema van die wêreld nie (Rom 12:2).  Ongelukkig is dit so dat ons Christene ook baie keer skuldig is aan hierdie praktyke.  Maar ons moet anders wees en die voorbeeld stel.

Timoteus is ‘n geroepene van die Here. Hy is geroep om die Evangelie te verkondig.  En eintlik moet ons altwee Paulus se briewe aan Timoteus lees om die omvang van sy werk en sy roeping te begryp.  Maar hier in 2 Timoteus 2:22-26 lees ons iets van wat Timoteus se roeping in die praktyk beteken het:

Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep. Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam.”

Dit is duidelik dat Paulus van Timoteus verwag om nie te baklei nie en in vrede met mense te lewe, maar dit beteken nie dat Timoteus moet stil bly nie.  Juis nie! Maar ons moet ook nie met die dwase en sinlose strydvrae ons tyd mors nie. “Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys!”

Die sleutelwoord hier is natuurlik LIEFDE.  Dit is met liefde wat ons van mekaar moet verskil. Dit is ongelukkig ons eie ego’s en ons begeerte om reg te wees wat baie keer maak dat ons van die liefde vergeet. Maar as ons vanuit die liefde van die Here, en vir daardie rede, anders as die wêreld is, dan maak ons God sigbaar en nie ons self nie. Dít maak die verskil.