Gedagte vir die dag – Ondeurgrondelik
Ek wil jou graag help om in die ritme te kom om elke dag deur Psalm 145 te lees. Daarom wil ek jou aanmoedig om die psalm vandag weer ‘n paar keer te lees. Lees hom dalk vandag in ‘n ander vertaling as die een wat jy gister gelees het.
Ons lees in vers 3 hierdie woorde:
Dawid draai sy fokus na waarom die Here lofwaardig is en daarom na die grootheid van God. Alle lof kom Hom toe. Daar is nie een wat lofwaardig is soos ons God nie. Hy is groot. Hy is so groot dat sy grootheid ondeurgrondelik is.
Hierdie woordjie “ondeurgrondelik” is een wat ons ken van bv. Romeine 11:33 wat sê: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!”
Maar wat bedoel dit regtig? Die woordeboek gee definisies soos “onverklaarbaar”, “onmeetbaar” en “geheimenisvol”. Die Engelse vertaling vertaal dit met “unsearchable”. Die Boodskap vertaling se weergawe van Psalm 145:3 help ons so bietjie: “Die Here is groot. Hy verdien om baie geprys te word. ’n Mens kan nie regtig in woorde beskryf hoe groot Hy is nie.”
Sy grootheid is onbeskryflik, ondefinieerbaar – ons kan God nie in ‘n boksie plaas nie! Ongelukkig pas dit nie altyd lekker in by hoe ons mense graag wil hê die wêreld moet werk nie. Ons wil graag alles kan verduidelik en verklaar en meet en verstaan. En in ‘n wêreld waar die wetenskap en tegnologie teen die spoed van wit lig vooruit gaan, maak dit mense ongemaklik as mens sê dat iets onverklaarbaar is. Boonop kan jy as jy iets nie weet nie, dit net Google.
Ondeugrondelik voel vir my so asof die grootheid van God nie ‘n bodem het nie. Jy kan grou en grou en grou en ontleed en verklaar, maar gaan nooit die bodem kry nie – “you’ll never get to the bottom of this”. Jy kan God se grootheid soek, dit selfs probeer Google, maar jy gaan nooit die finale, afgegrensde antwoord kry nie, want jy gaan net aanhou om nog meer en meer oor Hom te ontdek!
Dit vat geloof om oor te gee aan die onmeetbare en onverklaarbare God. Om al meer en meer te weet, en wetenskaplik te kan verduidelik en hoe meer jy weet en hoe meer jy van die wêreld uitvind, te besef hoe min jy regtig van God se grootheid weet. Om eintlik maar net weer by die punt uit te kom dat jy besef dat God NOG GROTER is as wat jy gedink het.
Mag dit ook elke dag jou belewenis wees. Dat jy gekonfronteer word met die onmeetbare en onverklaarbare grootheid van God.
Gedagte vir die dag – Elke dag ‘n rede om te loof
Het jy toe al vanoggend weer deur Psalm 145 gelees? As jy nog nie het nie, gaan lees die Psalm gerus is sy geheel deur, sommer voor jy hier verder lees.
In gister se boodskap (as jy gisteroggend se boodskap gemis het, besoek gerus die preke bladsy op ons webwerf om te gaan luister)… gister het ons geleer dat Psalm 145 ‘n lofpsalm is wat die grootste deel van die Joodse “Ashrei” gebed vorm. Dit beteken dat Joodse gelowiges hierdie psalm elke dag drie keer herhaal. Van daar die alfabetiese rangskikking van die verse, sodat dit maklik onthou, en elke dag maklik herhaal kan word.
Wanneer mens die psalm van nader beskou dan ontdek ons gou dat hier amper in elke vers iets oor ons God se karakter gesê word. Dit vertel vir ons van Wie die Here is en wat Hy doen. Geen wonder dan dat die Jode die psalm so baie herhaal nie. Om elke dag herinner te word aan die grootheid en die genade en die getrouheid en nabyheid van die Here het ‘n invloed op ‘n mens se denke – op jou perspektief – en stel ons in om redes te vind om die Here te loof.
Dit het my laat wonder oor die dinge waarmee ons ons gedagtes besig hou… hoe lyk ons daaglikse roetines? Natuurlik het dit in die afgelope jaar so bietjie anders begin lyk en moet ons nou weer onsself begin herinstel vir ‘n nuwe jaar met nuwe verrassings. Maar dink aan die dinge wat ons elke dag met ons oë en ore inneem – Facebook, Instagram, Twitter, Youtube, e-mails, state, notules, agendas, vorms, lyste, beplanning, ens. Watter deel van ons daaglikse roetine gaan daaroor om die Here te soek en sy lof te verkondig?
Psalm 145:1-2 sê:
Ek wil u lof verkondig,
my God en Koning,
ek wil u Naam altyd loof.
Elke dag wil ek U loof,
ek wil u Naam altyd prys.
Wat as ons dit deel van ons daaglikse lewe maak om juis dit te doen? Om saam met alles (of dalk soms in plaas van) dit wat ons elke dag moet inneem, daagliks hierdie woorde oor God ook inneem. Dit gaan oor meer as om net die psalm elke dag ‘n paar keer te lees – dit ook – maar om elke dag ‘n nuwe rede te vind om die Here te loof. Elke dag. Altyd.
Die Here is by jou. Hy is ook JOU God en JOU Koning. Mag jy dit ook spesiaal vandag beleef en ‘n oorvloed redes vind om Hom te loof.
Gedagte vir die dag – Liefde staan eerste
In 1 Korintiërs 13:4-7 lees ons oor die liefde. Hoe kom die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22-23 wat ons vroeër hierdie week gelees het, ooreen met Paulus se beskrywing van die liefde hier in 1 Korintiërs?
Liefde is die eerste vrug van die Gees en dit is so vir ‘n rede – dit is die belangrikste! Die ander vrugte groei vanuit die liefde. Dit is God se liefde wat dit vir ons moontlik maak om vrugte te dra. So sien ons die ooreenkomste met die vrug van die Gees hier in Korintiërs as Paulus sê dat die liefde geduldig is en vriendelik is en ook in wat hy sê wat die Liefde nie is nie.
Dink maar hoe moeilik dit partykeer is om geduldig te wees of hoe moeilik dit is om sekere omstandighede nog steeds vriendelik te wees. God se liefde maak dit moontlik. Nie net die wete dat Hy vir ons lief is nie, maar ook daarom sy Liefde wat in ons is.
Liefde is die beginpunt. As ons vanuit liefde dink en droom en leef gaan ons makliker geduldig wees met mense wat ons andersins sou irriteer. Makliker vriendelik wees met mense wat ons andersins sou kwaad maak. Dan gaan dit vir ons moontlik wees om te doen wat die beste is vir ander en nie net aan ons eie behoeftes dink nie.
Die feit dat liefde nie “boekhou van die kwaad nie” is so belangrik om te hoor. Dit beteken liefde hou nie telling nie. Dit beteken dat ek nie dinge doen net omdat dit volgens die telbord my beurt is nie. Maar dat ons dinge uit liefde doen, ongeag van wie nou al die meeste gedoen het vir wie en ongeag van foute uit ons verlede.
As ons só leef kan ander mense ook God se liefde leer ken en kan al die vrugte van die Gees in ons lewens begin groei.
Gedagte vir die dag – Vrug van die Gees
In Galasiërs 5:22-23 kry ons die bekende lysie van die vrug van die Gees. Wat dink jy bedoel die woorde “vrug van die Gees”? Dit is ‘n frase wat ons so baie en maklik in die kerk gebruik, maar verstaan ons werklik wat dit bedoel? Dalk moet ons net so bietjie vroeër in die hoofstuk begin lees, vanaf vers 16:
Paulus gee hier vir ons ‘n paar leidrade van wat hy daarmee bedoel as hy sê dat ons lewens deur die Gees beheers moet word en dat die Gees ons gedrag moet bepaal. Die konsep van vrugte dra word baie gebruik in die Bybel. Jesus praat ook daarvan in Matteus 7 dat goeie bome goeie vrugte dra en slegte bome slegte vrugte dra. Dit gaan oor wat in ons harte aangaan – as ons harte vol slegte goed is word dit sigbaar in ons dade net soos wat ‘n boom wat nie gesond is aan die binnekant nie se sigbare vrugte ook sleg sal wees.
So geld dit ook vir die goeie vrugte en ons verstaan van die vrug van die Gees. Dit bedoel met ander woorde dat as ons harte vol is van die Gees dat ons sigbare “vrugte” sal dra wat dit bewys. Of dan dat ons dade sigbaar sal wys dat die Gees in ons woon. Dit beteken dat ons in oorgawe aan God leef en dat ons soek na sy wil en wat vir Hom goed en reg is eerder dat ons net vir onsself leef en selfsugtig net doen wat ons begeer. “Laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal!”
Gedagte vir die dag – Is jy ‘n tak of ‘n stok?
Ons lees in Johannes 15:1-8 ons Here se woorde:
Vir die tak van ‘n boom om te kan vrugte dra moet hy aan die stam van die boom gekoppel wees. Anders kan die tak nie kos en water van die stam af kry nie en kan dan nie vrugte dra nie. Die verskil tussen ‘n tak en ‘n stok is dat ‘n tak nog aan die boom vas is en ‘n stok is afgekap en verdroog. Ons moet nie stokke wees nie, maar takke wat aan die stam vas is.
Ons moet met ander woorde deur die Gees wat in ons woon gekoppel wees aan Jesus. Die Here wil hê dat ons baie vrugte moet dra en gee vir ons ‘n leidraad van watter vrugte Hy bedoel as Hy in vers 10 sê dat ons sy opdragte moet uitvoer.
In vers 9-14 sê Hy:
Die geheim is dat ons mekaar moet liefhê soos wat Hy ons liefgehad het en sy lewe vir ons afgelê het. Dit is natuurlik nie maklik nie, maar wat Jesus hier bedoel is dat hoe nader ons aan Hom leef – hoe sterker ons verhouding met Hom is – hoe makliker gaan dit word om te doen wat Hy vra en sal ons prioriteite ook verander.