Gedagte vir die dag – Elke dag ‘n rede om te loof

Het jy toe al vanoggend weer deur Psalm 145 gelees? As jy nog nie het nie, gaan lees die Psalm gerus is sy geheel deur, sommer voor jy hier verder lees.

In gister se boodskap (as jy gisteroggend se boodskap gemis het, besoek gerus die preke bladsy op ons webwerf om te gaan luister)… gister het ons geleer dat Psalm 145 ‘n lofpsalm is wat die grootste deel van die Joodse “Ashrei” gebed vorm.   Dit beteken dat Joodse gelowiges hierdie psalm elke dag drie keer herhaal. Van daar die alfabetiese rangskikking van die verse, sodat dit maklik onthou, en elke dag maklik herhaal kan word.

Wanneer mens die psalm van nader beskou dan ontdek ons gou dat hier amper in elke vers iets oor ons God se karakter gesê word. Dit vertel vir ons van Wie die Here is en wat Hy doen.  Geen wonder dan dat die Jode die psalm so baie herhaal nie.  Om elke dag herinner te word aan die grootheid en die genade en die getrouheid en nabyheid van die Here het ‘n invloed op ‘n mens se denke – op jou perspektief – en stel ons in om redes te vind om die Here te loof.

Dit het my laat wonder oor die dinge waarmee ons ons gedagtes besig hou… hoe lyk ons daaglikse roetines?  Natuurlik het dit in die afgelope jaar so bietjie anders begin lyk en moet ons nou weer onsself begin herinstel vir ‘n nuwe jaar met nuwe verrassings.  Maar dink aan die dinge wat ons elke dag met ons oë en ore inneem – Facebook, Instagram, Twitter, Youtube, e-mails, state, notules, agendas, vorms, lyste, beplanning, ens.  Watter deel van ons daaglikse roetine gaan daaroor om die Here te soek en sy lof te verkondig?

Psalm 145:1-2 sê:

Ek wil u lof verkondig,
my God en Koning,
ek wil u Naam altyd loof.
Elke dag wil ek U loof,
ek wil u Naam altyd prys.

Wat as ons dit deel van ons daaglikse lewe maak om juis dit te doen?  Om saam met alles (of dalk soms in plaas van) dit wat ons elke dag moet inneem, daagliks hierdie woorde oor God ook inneem.  Dit gaan oor meer as om net die psalm elke dag ‘n paar keer te lees – dit ook –  maar om elke dag ‘n nuwe rede te vind om die Here te loof.  Elke dag. Altyd.

Die Here is by jou.  Hy is ook JOU God en JOU Koning.  Mag jy dit ook spesiaal vandag beleef en ‘n oorvloed redes vind om Hom te loof.