In 1 Korintiërs 13:4-7 lees ons oor die liefde. Hoe kom die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22-23 wat ons vroeër hierdie week gelees het, ooreen met Paulus se beskrywing van die liefde hier in 1 Korintiërs?
Liefde is die eerste vrug van die Gees en dit is so vir ‘n rede – dit is die belangrikste! Die ander vrugte groei vanuit die liefde. Dit is God se liefde wat dit vir ons moontlik maak om vrugte te dra. So sien ons die ooreenkomste met die vrug van die Gees hier in Korintiërs as Paulus sê dat die liefde geduldig is en vriendelik is en ook in wat hy sê wat die Liefde nie is nie.
Dink maar hoe moeilik dit partykeer is om geduldig te wees of hoe moeilik dit is om sekere omstandighede nog steeds vriendelik te wees. God se liefde maak dit moontlik. Nie net die wete dat Hy vir ons lief is nie, maar ook daarom sy Liefde wat in ons is.
Liefde is die beginpunt. As ons vanuit liefde dink en droom en leef gaan ons makliker geduldig wees met mense wat ons andersins sou irriteer. Makliker vriendelik wees met mense wat ons andersins sou kwaad maak. Dan gaan dit vir ons moontlik wees om te doen wat die beste is vir ander en nie net aan ons eie behoeftes dink nie.
Die feit dat liefde nie “boekhou van die kwaad nie” is so belangrik om te hoor. Dit beteken liefde hou nie telling nie. Dit beteken dat ek nie dinge doen net omdat dit volgens die telbord my beurt is nie. Maar dat ons dinge uit liefde doen, ongeag van wie nou al die meeste gedoen het vir wie en ongeag van foute uit ons verlede.
As ons só leef kan ander mense ook God se liefde leer ken en kan al die vrugte van die Gees in ons lewens begin groei.