Gedagte vir die dag – Ondeurgrondelik

Ek wil jou graag help om in die ritme te kom om elke dag deur Psalm 145 te lees.  Daarom wil ek jou aanmoedig om die psalm vandag weer ‘n paar keer te lees.  Lees hom  dalk vandag in ‘n ander vertaling as die een wat jy gister gelees het.

Ons lees in vers 3 hierdie woorde:

Die Here is groot, alle lof kom Hom toe,
sy grootheid is ondeurgrondelik.

Dawid draai sy fokus na waarom die Here lofwaardig is en daarom na die grootheid van God.  Alle lof kom Hom toe.  Daar is nie een wat lofwaardig is soos ons God nie.  Hy is groot.  Hy is so groot dat sy grootheid ondeurgrondelik is.

Hierdie woordjie “ondeurgrondelik” is een wat ons ken van bv. Romeine 11:33 wat sê: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!”

Maar wat bedoel dit regtig?  Die woordeboek gee definisies soos “onverklaarbaar”, “onmeetbaar” en “geheimenisvol”.  Die Engelse vertaling vertaal dit met “unsearchable”. Die Boodskap vertaling se weergawe van Psalm 145:3 help ons so bietjie: Die Here is groot. Hy verdien om baie geprys te word. ’n Mens kan nie regtig in woorde beskryf hoe groot Hy is nie.”

Sy grootheid is onbeskryflik, ondefinieerbaar – ons kan God nie in ‘n boksie plaas nie! Ongelukkig pas dit nie altyd lekker in by hoe ons mense graag wil hê die wêreld moet werk nie.  Ons wil graag alles kan verduidelik en verklaar en meet en verstaan.  En in ‘n wêreld waar die wetenskap en tegnologie teen die spoed van wit lig vooruit gaan, maak dit mense ongemaklik as mens sê dat iets onverklaarbaar is.  Boonop kan jy as jy iets nie weet nie, dit net Google.

Ondeugrondelik voel vir my so asof die grootheid van God nie ‘n bodem het nie.  Jy kan grou en grou en grou en ontleed en verklaar, maar gaan nooit die bodem kry nie – “you’ll never get to the bottom of this”.  Jy kan God se grootheid soek, dit selfs probeer Google, maar jy gaan nooit die finale, afgegrensde antwoord kry nie, want jy gaan net aanhou om nog meer en meer oor Hom te ontdek!

Dit vat geloof om oor te gee aan die onmeetbare en onverklaarbare God.  Om al meer en meer te weet, en wetenskaplik te kan verduidelik en hoe meer jy weet en hoe meer jy van die wêreld uitvind, te besef hoe min jy regtig van God se grootheid weet. Om eintlik maar net weer by die punt uit te kom dat jy besef dat God NOG GROTER is as wat jy gedink het.

Mag dit ook elke dag jou belewenis wees. Dat jy gekonfronteer word met die onmeetbare en onverklaarbare grootheid van God.