In Galasiërs 5:22-23 kry ons die bekende lysie van die vrug van die Gees. Wat dink jy bedoel die woorde “vrug van die Gees”? Dit is ‘n frase wat ons so baie en maklik in die kerk gebruik, maar verstaan ons werklik wat dit bedoel? Dalk moet ons net so bietjie vroeër in die hoofstuk begin lees, vanaf vers 16:
Paulus gee hier vir ons ‘n paar leidrade van wat hy daarmee bedoel as hy sê dat ons lewens deur die Gees beheers moet word en dat die Gees ons gedrag moet bepaal. Die konsep van vrugte dra word baie gebruik in die Bybel. Jesus praat ook daarvan in Matteus 7 dat goeie bome goeie vrugte dra en slegte bome slegte vrugte dra. Dit gaan oor wat in ons harte aangaan – as ons harte vol slegte goed is word dit sigbaar in ons dade net soos wat ‘n boom wat nie gesond is aan die binnekant nie se sigbare vrugte ook sleg sal wees.
So geld dit ook vir die goeie vrugte en ons verstaan van die vrug van die Gees. Dit bedoel met ander woorde dat as ons harte vol is van die Gees dat ons sigbare “vrugte” sal dra wat dit bewys. Of dan dat ons dade sigbaar sal wys dat die Gees in ons woon. Dit beteken dat ons in oorgawe aan God leef en dat ons soek na sy wil en wat vir Hom goed en reg is eerder dat ons net vir onsself leef en selfsugtig net doen wat ons begeer. “Laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal!”