Ons is nog nie klaar met die “Byse Manne” nie! (As jy wonder hoekom ons “wyse manne” met ‘n B spel, gaan lees eers gister se dagstukkie.) Daar is nog Koninkrykslesse om by hulle te leer. Dit gaan oor wat gebeur wanneer hulle by Jesus aankom. Ons lees in Matteus 2:11 daarvan:
“Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.”
Die woord wat ons hier vertaal met “reissakke” sou ons beter kon vertaal met “skatkiste”. Hulle het hulle skatkiste saamgebring en dit wat vir hulle waardevol was gegee om aan Jesus hulde te bring. Maar waarom nou juis goud, wierook en mirre?
Goud was in daardie tyd nie so skaars of waardevol soos ons vandag daaraan dink nie, maar dit is wat konings in oorvloed gehad het. 1 Konings 9:27-28 vertel vir ons: “Hiram het vir hom skepe gestuur en ervare seemanne. Hulle het saam met Salomo se manne na Ofir toe gevaar en daar vir koning Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.”
Dit was ‘n koninklike geskenk en met hierdie stukkie detail kom bevestig Matteus weer vir ons dat Jesus die Koning is. ‘n Voorskou van die feit dat Hy nie net die Koning van die Jode is nie, maar die Koning oor alles en almal.
Wierook is gebrand in die tempel as offer. Eksodus 30:8 sê: “Elke aand wanneer hy die lampe aansteek, moet hy wierook brand. Die wierookoffer moet altyd, ook deur julle nageslag, vir My, die Here, gebring word.” Deur hierdie geskenk word die offer wat Jesus sou bring ook reeds hier uitgespel. Dat Hy self die geur in die tempel sou wees van ‘n offer wat aan God gebring is vir die versoening van sonde, dat Hy self die offer was.
Mirre is gebruik as verdowingsmiddel vir mense wat gekruisig word, soos Markus 15:23 vir ons wys: “Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie.” Dit is ook gebruik om ‘n liggaam te behandel voor ‘n begrafnis. Johannes 19:39 & 40 sê:
“Nikodemus, wat ‘n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ‘n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.”
Hier kry ons ook ‘n voorskou van wat met die Koning sou gebeur. Hy het gesterf aan die kruis, sy liggaam is behandel, maar Hy het opgestaan. Dat Hy moes ly en sterf en begrawe moes word, maar dat die dood Hom nie gevange sou kon hou nie.
In ons soeke na die antwoord op die vraag oor watter kant bo is in hierdie deurmekaar wêreld begin Matteus ons vroeg in sy evangelie al help om te sien dat daar Een is wat bo staan – Koning Jesus. As ons dit besef dan kan ons begin om uit te werk wat dit beteken om weer ons wêreld, ons lewens regtekant bo te draai.