Gedagte vir die dag – U maak U Hand oop

Psalm 145:16 sê:

“U maak u hand oop
en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.”

In die Ou Vertaling klink die vers so: U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.”

Die meeste Engelse vertalings vertaal die vers met: You open your hand and satisfy the desires of every living thing.”

Dink hoe die wêreld sou gelyk het as die Here altyd aan al wat leef en beef presies gegee het net wat hulle wil hê.  Dit sou ‘n redelike chaotiese prentjie gewees het as mens en dier die heeltyd gekry het wat hul harte begeer.  Mense se harte is nie altyd gevul met goeie en onskuldige begeertes nie.  Net soos wat die roofdier in die veld vleis bo alles begeer is mense se begeertes soms ook, en selfs meer, bloeddorstig en selfsugtig as die van die gevaarlikste roofdier.

Maar die teendeel is ook natuurlik waar, en dit is dat ons as kinders van die Here na die Here toe gaan in gebed en smeking met gebedsversoeke van goeie dinge wat ons graag wil hê en belangrike dinge wat ons baie nodig het.  As dinge nie uitwerk soos en wanneer ons dit wil hê nie, dan raak ons vinnig negatief en ongeduldig en wonder of ons gebede dalk teen die plafon vasslaan.

Gelukkig sorg die Here vir ons in liefde en gee Hy nie altyd alles wat ons wil hê wanneer ons dit wil hê nie.  Hy gee wat ons nodig het, en méér!  Hy skenk sy guns in oorvloed, Hy versadig alles wat lewe met welbehae. Oorvloed. Versadig. Satisfy.

Om aan die Here vas te hou beteken met ander woorde nie dat ons altyd alles het wat ons dink ons moet hê nie, maar dat ons nog altyd die Here het.  Selfs al het ons niks nie, het ons nog die Here, en het Hy ons.  Dat ons nog ons vreugde in Hom kan vind en kan weet dat niks ons uit sy Hand kan ruk nie.  Dat Hy ons versadig op maniere wat ons nie altyd raaksien of verstaan nie.

Dit beteken ook (soos ons vroeër die week ook oor God se goedheid en koningskap gepraat het) dat ons met ons begeertes, ons ontevredenheid, ons spanning en ons vrae na die Here toe moet gaan en met Hom daaroor praat.  Dit is nie altyd maklike gesprekke nie (gaan lees weer die Psalms!), maar Hy bly vir ons ons enigste toevlug.

Onthou die woorde van Filippense 4:6-7.  Mag jy vandag daardie vrede beleef:

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”