Onder normale omstandighede sou ons elke aand hierdie week in ons aanbiddingsruimte bymekaar gekom het vir ons Week van Gebed eredienste. Al kan ons nie bymekaar kom daarvoor nie, wil ons steeds hierdie week aan gebed wy en as gemeente saam bid. Daarvoor gaan ons dagstukkies dan hierdie week op gebed fokus en ons leen so bietjie gedagtes uit die pragtige stukke wat die Christelike Lektuur Fonds vir hierdie jaar se Week van Gebed gepubliseer het.
Die Week van Gebed aan die begin van ’n nuwe jaar is ’n belangrike geloofspraktyk. Daardeur vestig ons geloofsritmes om ons lewe in God se teenwoordigheid te begelei. Ons dra die nuwe jaar aan God op en erken daarmee ons totale afhanklikheid van God.
In Matteus 6:6 beklemtoon Jesus die gesindheid waarmee gelowiges behoort te bid: “Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
Jesus wil sy hoorders leer van intimiteit met God en ’n geloofshouding waarin God alleen vir ons genoeg is; dat God ons begeerte en diepste verlange moet wees. Daarom nooi Jesus ons uit na die binnekamer, of soos die 2020-vertaling dit noem, die “binneste kamer”, waar niemand anders kan hoor of sien wat tuseen my en God gebeur nie.
Die uitdrukking “binneste kamer” nooi ons uit om oor méér te dink as net die fisiese vertrek in ’n huis waar ek met God alleen kan wees. Dit open ook die moontlikheid om oor die hart as setel van my innerlike gemeenskap met God te dink. Dan word die binneste kamer die ruimte waar God my ontmoet, op enige plek en tyd waar ek mag beweeg.
Die bekende Dr. Andrew Murray skryf breedvoerig oor gebed en die gelowige se geloofskarakter, soos wat dit in Deel IV van sy Versamelde Werke uitgelê is. Vir Dr. Murray was die binnekamer en die oggend-gebed belangrike elemente van die gelowige se gemeenskap met God.
Hy noem in hierdie verband van die daaglikse behoefte aan geloofsdissiplines die volgende: afsondering en stilte; die ware gees van gebed; die stigtelike lees van God se Woord; die gemeenskap met God waarvoor hierdie dinge bestem is en waardeur alleen hulle ’n seën kan aanbring; die geestelike lewe wat hulle bedoel is om te versterk en geskik te maak vir die daaglikse plig in omgang met die wêreld; die diens aan die koninkryk van God in die wen van siele en voorbidding.
Volgens Dr. Murray is die binnekamer die plek of ruimte waar die Here Jesus sy skool hou. Hy stel dit sterk: “Die Christen wat nie na sy binnekamer gaan nie, kan onmoontlik deur die Here geleer word om te bid… Beoefen die teenwoordigheid van God. Roep die hulp van die Here Jesus in om jou te leer om opreg te bid.”
Mag die 2021 Week van Gebed ons Kerkfamilie na die binneste kamer nooi, sodat ons ons opnuut kan verbind aan die Vader wat in die verborgeheid sien.
Temas vir gebed:
- Vra die Here om in ons die begeerte te wek om alleen sy wil en eer te soek en na te streef.
- Bid dat die Here ons motivering tot en gesindheid met ons gebede sal inspireer sodat ons gebede nie selfgerig sal wees nie.
- Vir almal met COVID-19, maar ook vir elke gesin wat direk of indirek deur die siekte geraak word.